Slenterdrag, die modegier waarvan jy moet weet

Modekenners reken “athleisure wear” is meer as net ʼn modegier; dit is ʼn leefstyl. (Foto: Klerekas.com)

Deur Rianca de Wet

Binne ʼn oogwink het die wêreldwye pandemie ons lewe totaal verander, en daarby ook ons kleredrag. Die meeste van ons het na afloop van die inperking die gerief van gemak besef en slenterdrag, oftewel “athleisure wear”, is tans die woord op almal se lippe.

Google stel jaarliks ʼn lys bekend van terme wat die meeste opgesoek is en dit kom as geen verrassing dat die modeterm van 2020 “athleisure wear” was nie.

Dit is dus duidelik dat informele slenterdrag van oorgroot, lospassende klere ʼn styl is wat tans wêreldwyd ʼn groot modeneiging is.

Wat is “athleisure wear”?

Die term “athleisure” is onlangs eers by woordeboeke gevoeg en kan gedefinieer word as ’n informele klerestyl wat ontwerp is vir oefening, maar ook sjiek genoeg is om elke dag te dra.

Die rede hoekom slenterdrag wêreldwyd so ʼn groot modegier is, is omdat dit beide prakties en 100% stylvol is.

Dié ontspanne, gemaklike styl kombineer sportdrag met sjiek, stylvolle klere en omskep dit in ʼn modieuse uitrusting – perfek vir enige geleentheid.

Funksioneel en modieus

Baie modekenners reken “athleisure wear” is meer as net ʼn modegier; dit is ʼn leefstyl. Die meeste van ons is die afgelope jaar genoodsaak om ons kantoorspasie vir ʼn spasie by die huis te verruil en sodoende ook ons nommerpas korporatiewe uitrustings vir ʼn gemaklike tuisblystyl.

Deur ʼn modieuse denim en leerbaadjie saam met tekkies en ʼn lospassende T-hemp te dra, skep jy die perfekte balans tussen stylvolle klere en aktiewe drag.

Net só skep ʼn ski-broek saam met ʼn stylvolle knopieshemp en jas bo-oor die perfekte balans tussen styl en aktiewe drag.

Die goue reël is: hoe meer formeel die geleentheid, hoe meer formele, stylvolle items moet jy as deel van jou uitrusting dra. Rond dit met bykomstighede af. (Foto: Klerekas.com)

Reg vir enige geleentheid

Hierdie soort slenterdrag kan maklik vir die meeste geleenthede gestileer word. Die goue reël is: hoe meer formeel die geleentheid, hoe meer formele, stylvolle items moet jy as deel van jou uitrusting dra, maar hoe meer informeel die geleentheid, hoe meer aktiewe drag kan jy by jou uitrusting insluit.

Stileer jou baadjie saam met ʼn T-hemp en tekkies – nie net sal dit sjiek lyk vir werk nie, maar sommer ook vir ʼn kuiertjie saam met vriende.

Bykomstighede

Rond jou uitrusting met bykomstighede af. ʼn Sonbril, keps of modieuse rugsak is die perfekte bykomstighede vir jou “athleisure”-uitrusting.

Juwele is ook stylvolle items wat by jou uitrusting gevoeg kan word, maar onthou altyd – minder is meer.

Dra stylvolle, alledaagse items saam met jou aktiewe kleredrag, soos ʼn modieuse jas. (Foto: Klerekas.com)

Moets en moenies van “athleisure wear”

  • Dra een of twee elemente by die items wat reeds in jou klerekas is vir ʼn gebalanseerde “athleisure”-uitrusting.
  • Wees kreatief, veral wanneer jy ʼn laag-op-laag uitrusting dra.
  • Hou die seisoen se nuutste modegiere dop.
  • Stileer eenvoudige, stylvolle bykomstighede saam met jou uitrusting.
  • Hou jou persoonlike styl in gedagte; moenie iets dra waarin jy nie gemaklik voel nie.
  • Onthou (weereens) altyd… minder is meer!

Hoe om “athleisure wear” sjiek te stileer

  •  Dra stylvolle, alledaagse items saam met jou aktiewe kleredrag. ʼn Denim en ʼn leerbaadjie saam met tekkies, of ʼn ski-broek saam met ʼn formele knopieshemp en ʼn modieuse jas. Bonkige tekkies saam met ʼn mooi rok werk ook goed.
  • Tekkies of sandale sal jou “athleisure wear”-uitrusting stylvol afrond.
  • Stileer ʼn ski-broek om meer formeel te lyk deur ʼn knopieshemp om jou middel te bind.
  • Deur items soos ʼn pofferbaadjie saam met jou uitrusting te dra, of ʼn informele T-hemp saam met ʼn formele romp, laat jou uitrusting onmiddellik meer sjiek vertoon.

Rianca se die mede-eienaar van Klerekas.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.