Só pas haarsalonne aan by Covid-19

(Foto: Pixabay)

Vir sowat drie maande lank was niemand toegelaat om hul haarkapper te besoek vir ʼn sny, kleur, blaas, of enige ander diens nie.

Maar sedert Woensdag 17 Junie, ná die president aangekondig het dat ondernemings soos haarkappers, fliekteaters, skoonheidsalonne en restaurante weer mag heropen, is haarkappers weer volstoom aan die werk. Dit is duidelik dat mense hul geliefde haarkapper gemis het, want orals is haarsalonne bykans vol bespreek.

Hoewel haarkappers gereed staan om klante te ontvang, is die ervaring deesdae ietwat anders. Hier is wat jy kan verwag as jy tydens vlak 3 van isolasie jou haarsalon besoek:

  • Jou haarkapper kan jou vra om buite in jou voertuig te wag totdat hulle jou laat weet jy mag inkom. Dit voorkom dat mense in die voorportaal of wagkamer saamdrom.
  • Jy en jou haarkapper gaan albei ʼn masker dra deur die loop van die afspraak. Dit maak dit ʼn bietjie moeilik om lekker te gesels soos wat jy gewoond is, maar dit behoort nie te steurend te wees nie.
  • Jy moet jou hande ontsmet en inteken wanneer jy by die salon ingaan.
  • As jou haarkapper normaalweg vir jou iets om te drink aanbied, sal dit nie meer gebeur nie. Maak maar seker jy drink jou oggendkoffie voordat jy haarkapper toe gaan!
  • Skerms kan tussen stoele opgerig word wat naby aan mekaar staan. Die skerms is gewoonlik deursigtig en voorkom dat kieme na die persoon langs jou versprei. As die haarkapper se wasbakke ook naby aan mekaar is, kan jy verwag dat skerms ook daar opgerig sal wees.
  • Die oortrekvoorskote wat jy dra, moet na elke persoon se gebruik behoorlik gewas word – dit kan lei daartoe dat die Velcro op die voorskoot verswak en nie meer so goed aanmekaar vasklou nie. Wees maar geduldig en verstaan dat die haarkappers nie ʼn ander keuse het nie.
  • Wanneer jou hare gewas word, moet jy steeds heeltyd jou masker aanhou. Jy kan die toutjies van jou ore afhaal, maar die masker moet steeds oor jou mond bly.
  • Haarkappers mag nie meer jou kop masseer wanneer hulle jou hare was nie.
  • Jy moet alleen in die haarsalon ingaan. Geen vriende, ouers of besoekers sal toegelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maya ·

Ai daai eerste afspraak vir n lekker was en sny was HEERLIK!! Die masker was nat na die tyd maar dit het nie gepla nie. Moes ook die masker losmaak om om die ore netjies te sny maar weer het dit nie gepla nie. Baie dankie vir al die haarstiliste wat so lank vir ons moes wag, ons waardeer julle net meer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.