Sorg só vir sensitiewe velle in die winter

Foto ter illustrasie. (Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

As jy in Suid-Afrika se binnelandse provinsies woon, weet jy watter soort uitwerking die wintermaande op jou sensitiewe vel kan hê.

Die droë lug laat jou vel nie net vaal en leweloos lyk nie, maar kan dit selfs branderig laat voel.

Bring ʼn paar veranderinge aan jou velsorg aan om jou sensitiewe vel te versorg en jou grootste orgaan gesond, glad en bevogtig te laat lyk.

Claire Bowen van Shower to Shower sê daar is baie produkte wat jou gevoelige vel in koue, droë weer kan help, maar dit is belangrik om te onthou dat jy altyd ʼn sensitiewe vel versigtig moet behandel.

“Kies ʼn reeks produkte wat geformuleer is vir sensitiewe velle wat saggies op jou vel sal werk.”

Bowen het die volgende wenke om jou sensitiewe vel ekstra goed in die winter te versorg:

  1. Vermy ʼn bad of stort wat te warm is, want die warm water kan nog meer vog uit jou vel onttrek.
  2. Sit vogtigheid terug in die lug van die slaapkamer met ʼn bevogtiger en beveg die winter se droë lug. Dit kan ook help om ander winterkwale, soos verkoues, te verlig.
  3. Kies ʼn produkreeks wat spesiaal vir ʼn sensitiewe vel ontwerp en pH-gebalanseerd is.
  4. Sommige plekke is net ekstra sensitief omdat jou vel daar die dunste of die dikste is, soos jou lippe, hande en voete. Hou ʼn lipsalf byderhand en ʼn ekstra bevogtigende room om droë, jeukerige en gebarste vel op die hande en voete te voorkom.
  5. Sonskerm is belangrik, selfs in die winter. Vermy sonskade aan jou vel deur daagliks, selfs in die wintermaande, ʼn sonroom aan te wend.
  6. Bevogtig van binne na buite. Onthou, jou vel benodig water en jy kan jou vel natuurlik bevogtig deur jou waterinname te verhoog.

Bowen sê jou dieet kan ook jou vel uitdroog. Vermy eerder kossoorte met ʼn hoë soutinhoud en te veel suiker én beperk jou kafeïenvlakke as jy jou sensitiewe vel in die wintermaande gesond wil hou.

Drie maniere om ʼn pragtige vel te bevorder

(Foto: Cottonbro/Pexels)

Hier is ʼn paar bekostigbare wenke om jou vel te laat gloei in die winter:

Afskilfering twee keer per week

Jou lyf se vel moet net so goed versorg word soos jou gesig. Die eenvoudigste manier om dit te doen is om te werk aan ʼn natuurlike gloed. Afskilfering twee keer per week is belangrik om ʼn droë, jeukerige vel te vermy. Afskilfering verwyder dooie velselle en as jy van die selle ontslae kan raak, kan jy ʼn beter opname van bevogtigende produkte verseker.

Voed jou vel twee keer per dag

ʼn Goeie bevogtiger vir jou vel is die geheim vir ʼn somergloed op jou vel wat jy regdeur die wintermaande ook kan behou. ʼn Lagie room ná jou bad of stort kan die vog in jou vel insluit en behou.

Bykomende sorg vir jou lippe en hande

Doen ekstra moeite met jou lippe en hande, veral omdat hulle so sigbaar is en deel van die manier hoe jy met mense kommunikeer. Spesialisprodukte met shea- of kakaobotter wat vir jou lippe en hande ontwerp is, kan help om die vel op dié liggaamsdele te voed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.