Skoonheidsprodukte met ekstra voedingswaarde, al hoe meer tuisbehandelings en produkte wat eetbaar is. Toni Carroll, stigter van die bekroonde skoonheidsaanvuller, My Beauty Luv, het die volgende 2022-skoonheidsneigings geïdentifiseer:
- Skoonheid met ekstra voedingswaarde
Die idee van ʼn bietjie ekstra voedingswaarde in skoonheidsprodukte is nie nuut nie; inteendeel, dit het al in die 1980’s begin kop uitsteek. Carroll meen egter dat die mark hiervoor aansienlik groei. “Die voedingskoonheidsbedryf (nutricosmetics) was verlede jaar VSA $5,1 miljard werd, en daar word voorspel dat die syfer tot $8,3 miljard in 2027 sal styg.” Sy raai egter mense aan om alle verteerbare skoonheidsprodukte eers behoorlik te bestudeer, aangesien elkeen nie op dieselfde manier vervaardig word nie. “Gaan die bestanddele van die produk na voordat jy ʼn produk gebruik.”
- Meer plantgebaseerde skoonheidsprodukte
“Nuwe wetenskaplike metodes om plantgebaseerde produkbestanddele, soos chlorofil, te ontwikkel, te onttrek en te verwerk, is nou beskikbaar,” het Carroll verduidelik. Sy raai mense egter aan om skepties te wees oor sommige plantgebaseerde produkte en hul bestanddele, asook navorsing te doen voordat enige skoonheidsbesluite geneem word.
- Die huis is waar die oplossings lê
Die inperkingstyd in 2020 en 2021 het mense bewus gemaak van skoonheidsbehandelings wat tuis gedoen kan word. Sy meen egter die deurbraak sal wees in mediese, professionele velsorgprodukte wat verbruikers by die huis kan gebruik, en die produkte sal nie net meer by ʼn skoonheidskliniek of -salon te koop wees nie. ʼn Belangstelling in huishoudelike skoonheidstoestelle is volgens haar ook aan die toeneem.
- Vriendelikheid kos jou (skoonheid) niks nie
Veganistiese velsorg en skoonheid het in 2021 aansienlik gegroei, volgens Carroll. “Selfs verbruikers wat nie die veganistiese roete volg nie, vereenselwig hulle met die ‘skoner, vriendeliker, sagter’ filosofie,” het sy verduidelik.
- Oud maar nog nie koud
Tendense verander voortdurend wanneer dit by skoonheid kom, maar daar is sekere produkte en bestanddele wat nie vervang kan word nie. ʼn Voorbeeld hiervan is vitamien E, wat in ʼn groot verskeidenheid van skoonheidsprodukte gebruik word. “Dis gerusstellend dat hierdie noodsaaklike bestanddele weer begin aandag trek,” het Carroll gesê.
- Oordeelkundige skoonheidsbesluite
Mense raak al hoe kieskeuriger oor die skoonheidsprodukte wat hulle aankoop en gebruik. “Met die aantal skoonheidsopsies op die mark, asook die ongelooflike keuses wat verbruikers tot hul beskikking het in terme van hul eie skoonheid, het mense meer skoonheidsprodukte as ooit tevore – maar die fokus word op gehalte geplaas,” het Carroll verduidelik.
- Stresvermyding is die volgende verouderingsvermyding
Sommige skoonheidsreekse is deesdae méér gefokus op teenmiddels vir spanning as vir veroudering, maar volgens Carroll is die twee taamlik verweef. “Die aanslag op skoonheid het meer holisties van aard geword. Ons begin nou eers werklik die verbintenis tussen stres en veroudering verstaan,” het sy gesê.
- Velbeskerming boaan die prioriteitslys
Sonroom en ander velbeskermingsprodukte is al ʼn ruk gewild; mense begin egter deesdae besef dat die son nie die enigste beskadigende sondaar is nie. Die gevaar van die blou lig van die elektroniese skerms waaragter talle mense daagliks sit, het ook begin kop uitsteek. Carroll voorspel dat ʼn reeks beskermende produkte teen hierdie nuwe skoonheidsgevaar in 2022 op die mark sal verskyn.
- Nuwe produkte vir jou kopvel
Nuwe baanbrekerprodukte om jou kopvel opnuut te versorg maak stadig maar seker hul verskyning op die mark. Carroll meen ook dat haarbehandelings, soos ʼn Brasiliaanse droogblaas, met nuwe, veiliger, skoner en meer omgewingsvriendelike metodes vervang sal word.
- Die jaar van bakteriële skoonheidsbehandeling
Volgens Carroll is 2022 die jaar waarin bakteriële skoonheidsbehandelings vlamvat. “Nie probiotika wat tans op die rakke beskikbaar is nie, maar lewendige, , gekweekte bakterieë. Mense gaan letterlik hul skoonheidsprodukte eet.
“Skoonheidsprodukte en behandelings ontwikkel voortdurend; ons sien uit daarna om te sien wat 2022 vir ons inhou,” het Carroll afgesluit.
Regtig nodig