Volhoubare, bemagtigende skoonheid vir vroue

(Foto: Verskaf)

Vir die kosmetiese maatskappy Floratt Cosmetics lê bemagtiging en volhoubaarheid na aan die hart, en daarom maak hulle ʼn verskil deur ordentlike en waardige werk te skep vir werklose vroue van Suid-Afrika.

Hulle gebruik ook inheemse plante om omgewingsvriendelike en volhoubare persoonlike sorg- produkte te lewer.

Floratt se werknemers bestaan uit 90% vroue. Baie van dié vroue is die enigste broodwinner in hul gesinne.

Mampho Tjabane, uitvoerende hoof van Floratt Cosmetics, sê dit is vir die maatskappy belangrik omdat hulle hierdeur meer mense as net hul werknemers help.

“Wanneer jy geleenthede vir vroue skep om hul vaardighede op te skerp, bemagtig jy mense en help jy die gemeenskap,” sê Tjabane.

Wat Floratt verder uniek maak is dat hul produkte plaaslik vervaardig word en dan wêreldwyd versprei en verkoop word. Die vroue kan die werk van hul huise doen en geen vlak van opvoeding is nodig nie. Hulle verdien ʼn inkomste deur middel van die produkte wat verkoop word.

Floratt Cosmetics moedig die gebruik van inheemse plante en tradisionele kundigheid aan om ʼn gesonde vel en hare te verseker.

“Hoewel mense dikwels nie bewus is van die wilde plante en blomme [wat in kosmetiese produkte gebruik kan word] nie, word dit al vir eeue in medisyne en vir skoonheid gebruik,” skryf Floratt Cosmetics in ʼn verklaring.

Hulle gebruik hoofsaaklik twee rou materiale in hul produkte: roosbottel (die vrug aan roosbome, in Lesotho bekend as “morobei”) en kaktus. Dié plante kom volop voor in die berge in Suid-Afrika en Lesotho.

“Die vetsure en vitamien A in roosbottelolie bevogtig die vel en bevorder vernuwing en verbeter elastisiteit. Roosbottelolieprodukte kan die vel se tekstuur verbeter en kan selfs die voorkoms van littekens en rekmerke verbeter,” meen Floratt Cosmetics.

“ʼn Kaktus het hoë vlakke van vitamien E, wat bekend is daarvoor dat dit help om die vel en hare gesond te hou. Dit bevorder ook selgroei en die helderheid van gelaat.”

Vir meer inligting besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.