Voor- en nadele van feestelike haarkleure

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Dit is lankal nie meer vreemd om jou hare skakerings van pienk, blou, groen en pers te kleur nie. Vervelige hare is lankal oudmodies en kunstenaars soos Katy Perry, Lady Gaga, Cardi B, Kendall Jenner en Ruby Rose verander gereeld hulle hare in alle kleure van die reënboog.

Hoewel dit ʼn modegier is om ʼn feestelike kleur aan jou hare te gee, kan dit ook nadelig vir jou hare wees.

Hier is ʼn paar dinge wat jy moet weet wanneer jy lus is om daardie kleurgier te volg:

Kleur was na ʼn paar dae uit

Die lewendige kleur wat jou hare aanvanklik aanneem, hou net sowat vier of vyf dae, of as jy gelukkig is ʼn week. Daarna verdof dit weens ʼn kombinasie van sjampoe en opknapper en die chemikalieë wat in water is waarmee jy jou hare was. Selfs al gebruik jy ʼn kleurbestande produk, sal die kleur nie naastenby so lank hou as wat jy gehoop het nie.

Deur jou hare in koue water te was, kan jy help dat die kleur langer hou. Uiteindelik sal jy dalk handdoek ingooi en eerder meer gereeld jou hare laat kleur as om in vriesende water te stort.

Kleur kan jou beddegoed, handdoeke vlek

Jou kussingslope en handdoeke mag dalk nooit weer dieselfde wees nie. Wanneer jou hare vars gekleur is, sal dit vir die volgende paar wasse bloei. Hou jou nat hare weg van enigiets wat wit is, veral jou gunsteling‑T-hemde.

Rooi kleursel kan jou badkamer na ʼn moordtoneel laat lyk

As jy jou hare bloedrooi kleur, kan dit lyk of daar ʼn moord in jou badkamer gepleeg is wanneer jy jou hare was. Probeer jou wit wasbak, bad en stort red deur ʼn bleikmiddel aan te skaf waarmee jy jou badkamer kan skrop.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Was jou hare minder gereeld

Dit kan ʼn seëning en ʼn vloek wees om jou hare minder gereeld te was. Aan die een kant sal jy minder tyd in die stort deurbring, maar aan die ander kant kan droë sjampoe ook net so ver gaan.

Natuurlike haarkleur bepaal hoeveel werk jou lawwe kleur is

As jy natuurlik blond is, is dit makliker om jou hare pienk of groen te kleur aangesien jy dit nie eers sal hoef te verbleik om die gewenste kleur aan te wend nie.

As jy donker hare het, sal jy eers ʼn verbleikingsproses moet deurmaak voordat jy die helder kleur kan aanwend. Dit kan ʼn paar rondes van verbleiking neem voordat jou hare gereed is om gekleur te word, wat jou hare kan beskadig.

Verbleikingsmiddels maak jou hare dunner en laat dit makliker breek. Dit kan ook veroorsaak dat jou hare makliker koek en dit kan moeiliker wees om die koeke uit te kam.

Bronne: MTV.com, All Things Hair.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.