Vyf maklike haarstyle vir warm somerweer

Wind en sand is nie altyd jou hare se beste vriend nie, en mens moet dikwels kreatief raak om jou kroon mooi te laat vertoon in die warm weer.

In die somer is dit vir baie van ons die belangrikste om ʼn haarstyl te kies wat daarvoor sorg dat jou hare nie in jou gesig of nek hang nie. Terselfdertyd wil jy ook ʼn styl hê wat mooi sal lyk langs die swembad en by ʼn skemerkelkie.

Hier is vyf maklike haarstyle vir die warm weer:

Hoë poniestert

Die hoë poniestert is die ideale somerhaarstyl, en dit is boonop baie maklik om te doen. Laat jou poniestert ekstra professioneel lyk deur ʼn stukkie hare van die onderkant van die poniestert te vat en dit om die rekkie te draai. Trek ook saggies aan die hare teen jou kop om volume te skep.

Hoë poniestert (Foto: Instagram/ArianaGrande)

Dubbelvlegsels

Pippie Langkous sou nooit kon raai dat haar vlegsels vir só lank in die mode sou wees nie! Hierdie keer trek ons net vir die vlegsels ʼn ander baadjie aan deur dit teen die kop te vleg. Jy kan self kies of jy dit tot by die punte wil vleg en of jy dit soos ʼn poniestert wil laat hang soos in die foto.

Dubbelvlegsels (Foto: Pinterest via Styleinterest)

Maklike deurmekaar-bolla

ʼn Bolla is ʼn maklike en vinnige manier om jou hare uit jou nek en gesig te kry. Volg hierdie stappe om ʼn pragtige bolla te maak wat moeiteloos lyk en jou ook nie lank sal vat nie. Trek ʼn paar slierte langs die kant en teen jou gesig uit om ʼn gemaklike gevoel te skep.

Maklike deurmekaar-bolla (Foto: Pinterest via consider.haar2019)

Serp om jou kop

Serpe kan om jou kop, in jou vlegsel, of om jou bolla gebruik word om ʼn romantiese gevoel te skep. Maak ʼn knoop in die middel van jou serp en sit dit in die middel van jou kop, knoop dan die serp onder jou hare. Hierdie haarstyl is heerlik omdat die serp jou hare uit jou gesig uit hou, maar ook jou hare effens van jou nek af lig.

Serp om jou kop (Foto: Pinterest via Shopimpressions.com)

Twee bollas

Hierdie oulike haarstyl is tans net so gewild soos wat dit in die 90’s was. Dit is ook ʼn goeie alternatief vir mense wie se hare te kort is om die dubbelvlegsels te maak; boonop werk  hierdie haarstyl met ʼn kant of -sypaadjie. Met dié styl is die hare uit jou nek uit en jy lyk sommer gereed vir die somer.

Twee bollas (Foto: Instagram/KhloeKarashian)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.