Vyf staatmakers vir jou herfsklerekas

Denim baadjie: Forever New

Herfs is om die draai en jy begin stadig maar seker jou somerklere verruil vir iets wat meer bedek en snoesig is.

In Suid-Afrika is daar nie so ʼn drastiese verskil in die oorgang van somer na herfs nie, maar wat jy lus voel om aan te trek, verskil wel. Die weer speel so ʼn groot rol in hoe ons aantrek en die klere wat ons kies. Selfs as daar net ʼn ligte briesie waai, wil jy dalk nie meer jou somerrokkie aantrek nie.

Dit hoef ook nie te beteken dat jy jou hele klerekas moet vervang nie, want ons almal se beursies trek maar noustrop in dié ekonomie. Daarom is dit slim om ʼn paar staatmakeritems byderhand te hê wat jy oor en oor kan dra en jou boonop jare sal hou.

As jy jou staatmakerkledingstukke vir herfs slim kies, kan jy dit selfs ook in die winter dra met ʼn paar bykomende lae klere.

Van die grootste modegiere wat vir vanjaar se herfs op die loopplanke te sien is, is geruite patrone op enige kledingstuk, platform- en bonkige skoene, skakerings van bruin en pers, asook leer of kunsleer.

Hier is vyf items wat die perfekte staatmakers vir jou herfskas is. Hoewel dié kledingstukke in pas is met die jongste modegiere, sal hulle jou jaar ná jaar nog kan dien as ʼn klassieke item in jou kas.

Tekkies

Klassieke tekkies van Truworths

Tekkies is al lank in die mode, en dit lyk nie of dit enige oomblik uit die kollig gaan beweeg nie. Om seker te maak jou tekkies is stylvol en tydloos, kry iets in ʼn neutrale kleur soos wit, ligbruin, room of liggrys. Jy kan ook soek vir ʼn tekkie wat ʼn natuurlike skakering van jou gunstelingkleur is.

Moenie jou te veel steur aan die platformskoentendens nie, want as jy nou platformtekkies koop, moet jy dalk oor ʼn paar maande nuwes koop wanneer dit uit die mode is.

Denimbaadjie

Denimbaadjie van Forever New

Denimbaadjie van Superbalist

Die denimbaadjie is nou al jare lank ʼn gunsteling. Dit is ook die perfekte staatmaker vir herfs en kan maklik oor enige rokkie aangetrek word of saam met ʼn klassieke swart broek en jou nuwe tekkies.

Serp

Geruite serp van Forever New

ʼn Breë, bonkige serp is een van die items wat jy oor en oor sal kan dra, en dit kan selfs in die winter ook handig wees.

Aangesien ʼn geruite patroon dié seisoen in die mode is, is dit die perfekte tyd om dit in jou kas te verwelkom. ʼn Geruite patroon is klassiek en oor die jare heen steeds ʼn modieuse keuse, maak nie saak wat jou ouderdom is nie. Dit kom ook in verskillende groottes en kleure voor sodat jy dit behoorlik by jou styl kan aanpas.

Rok met lang moue

Lang maksirok van Superbalist

Lang maksirok van Superbalist

Die herfs is die perfekte tyd vir ʼn lang rok met lang moue. Na gelang van jou styl (en die weer) kan jy sandale, tekkies of enkelstewels daarby aantrek. Jy kan dit ook saam met jou denimbaadjie dra, of ʼn leerbaadjie vir ʼn meer formele voorkoms.

Die nuwe klassieke langbroek

Joggers van Superbalist

Die nuwe “klassieke” broek is nie meer beperk tot ʼn denim of ʼn swart langbroek nie. “Joggers” is ideaal vir die herfs en dis vleiend aan die meeste liggaamsvorms. Dié broek het gewoonlik ʼn strik bo waarmee jy dit stywer kan trek en ʼn rek onder by die enkels. “Joggers” gaan ook dikwels nie af tot teen jou skoen nie, maar sorg vir ʼn kaal enkel, wat ʼn varser weergawe van die gewone langbroek gee.

Dié gemaklike broek is stylvol en kom in enige kleur voor. Vir die herfs sal ʼn roesoranje, diepgroen, liggrys, of selfs ʼn geruite patroon jou met talle keuses vir ʼn uitrusting laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Dis nou insiggewend my plan is juis om n denim baadjie te koop en dit lyk na n goeie kopie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.