Waarom is dermatoloë so gaande oor hialuroonsuur?

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Sharon McCutcheon)

Hialuroonsuur is ʼn deurskynende, klewerige middel wat natuurlik deur die liggaam vervaardig word en die grootste hoeveelhede daarvan word in die vel, bindweefsel en oë gevind.

Die hooffunksie daarvan is om water terug te hou wat jou weefsel bevogtig en glad hou.

Die voorkoms van plooie word verminder in ʼn gehidreerde vel, wat dalk verduidelik waarom verskeie studies daarop dui dat hialuroonsuur jou vel gladder laat vertoon en waarom dermatoloë wêreldwyd gaande is oor dié middel.

Hialuroonsuur het ʼn verskeidenheid van gebruike. Talle mense neem dit as ʼn aanvulling, maar dit word ook in serums, oogdruppels en inspuitings gebruik en bevorder veral ʼn gesonder, soepel vel en voorkom veroudering.

Wanneer serums wat hialuroonsuur bevat aan die oppervlak van die vel aangewend word, kan dit ook rooi vlekke en dermatitis verminder.

Sommige dermatoloë spuit selfs hialuroonsuur as vullers in die vel om dit ʼn ferm en jeugdige voorkoms te gee.

Die natuurlike verouderingsproses en die blootstelling aan elemente soos die son, verwarmers in die winter, tabakrook en besoedeling kan die natuurlike hoeveelheid hialuroonsuur in die vel verminder.

Deur ʼn mondelikse aanvulling van hialuroonsuur te neem, kan jy die vermindering daarvan in die vel voorkom en sodoende ekstra hoeveelhede in die liggaam toedien om in die vel opgeneem te word.

ʼn Dosis van 120–240 mg hialuroonsuur per dag vir minstens een maand lank kan ʼn beduidende verskil aan ʼn droë vel maak.

“Hialuroonsuur is ʼn suikermolekule wat natuurlik in die vel voorkom en dit help om water met kollageen te verbind en in die vel vas te vang sodat die vel plomper, vogtiger en meer gehidreer vertoon,” verduidelik dermatoloog Tsippora Stainhouse.

Hialuroonsuur verhoog wesenlik bevogtiging in die vel, wat dit vars en vol laat vertoon. “Die kollageen in ons dermis (boonste laag van die vel) vorm die struktuur van die vel. Natuurlike hialuroonsuur word aan die een kant verbind met kollageen en aan die ander kant met watermolekules, wat bydra tot die vel se volheid,” voeg Stainhouse by.

Hialuroonsuur word gevind in skoonheidsprodukte soos Kalahari se Age Preventative Skin Kit en LeLive se All the Shade SBF 30-bevogtiger. Dit kan ook in Nivea se Cellular Hyaluron Anti-Age SBF 15-dagroom en Eucerin se Hyaluron-Filler Moisture Booster-bevogtiger gevind word.

Bronne: HealthLine, Allure.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toktokkie

Nivea en Eucerin produkte toets op diere. LeLive en Kalahari is cruelty free. Ek dink ons is regtig verby die era dat ons nog produkte moet gebruik wat op diere getoets word. Daar is geen rede meer vir dit nie.

Kwikkie12

Onlangs Justine ontdek puik produkte en redelike pryse!