Wat is jou unieke stylpersoonlikheid?

Iris Apfel (100) is ‘n mode-ikoon met haar eie unieke stylpersoonlikheid. (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images/AFP)

Deur Lizel van der Westhuizen

Nie almal het ʼn persoonlike styl wat so herkenbaar is as dié van Iris Apfel nie, maar elkeen het sy eie unieke styl. Sommige het dit nog net nie ontdek nie.

Jou persoonlike styl is ʼn belangrike aspek van wat jy dra; dit is die element wat jou uniek maak, en as dit werklik j‎ý is, laat dit jou hart sing en sal jy elke dag soos ʼn stylikoon voel.

In ʼn Marie Claire-artikel het dr. Samantha Boardman, sielkundige, die volgende gesê: “When you wear something that makes you feel great, the effects may be subtle – the way you tilt your head, your facial expressions – but they matter.” “…The right outfit can help you feel more confident when you need it most – it can serve as both armour and inspiration.”

Natuurlik is dit nie al wat jou styl maak of breek nie, maar eerder ʼn belangrike element wat – in kombinasie met jou figuur, ouderdom en leefstyl – ʼn unieke bloudruk aan jou styl verleen.

Jou persoonlike stylpersoonlikheid word deur die kledingstukke en bykomstighede wat jy kies, en hóé jy dit dra, oorgedra.

ʼn Belangrike punt wat ook byvoeg moet word, is dat jou persoonlike styl altyd ontwikkel – tyd en lewenservarings kan veroorsaak dat ons onsself anders uitdruk. Ek het byvoorbeeld met vroue gewerk wat eers prominent “vroulik” was, maar wat na ʼn langdurige, traumatiese gebeurtenis soos kanker of ʼn nare egskeiding, hul styl na “natuurlik” of “klassiek” verander het. Vir ander kan die verandering kom omdat hulle mettertyd meer selfvertroue gekry het.

Hier is die sewe hoof stylpersoonlikhede. Jy kan dit kombineer vir ‘n unieke stylpersoonlikheid. (Foto: Verskaf)

Daar is sewe hoof stylpersoonlikhede, naamlik: klassiek, elegant, natuurlik, dramaties, vroulik, sexy en kreatief.

Klassiek:

Klassieke vroue hou van ʼn tydlose voorkoms, mooi, sagte materiaal en klere met ʼn eenvoudige snit. Hulle geniet ʼn kas vol neutrale kleure en funksionele style. Hulle is ook geneig om klere lank te hou en vervang verslete items met ʼn soortgelyke kledingstuk. Die klassieke dame is ook glad nie lief vir ʼn klerewinkel nie.

Elegant:

Die elegante vrou is in harmonie met alles wat gepoleer, perfek en onderskat is. Kwaliteit is hoog op haar lys van noodsaaklikhede, en haar selfversekerdheid en houding word altyd opgemerk en bewonder. Haar voorkeur is kwaliteit eerder as kwantiteit, wat ʼn klerekas met pragtige materiale en minimalistiese, vroulike style tot gevolg het.

Natuurlik:

Vroue met ʼn natuurlike styl voel die beste in gemaklike, funksionele, eenvoudige style wat nie van sintetiese materiale gemaak is nie; hoe natuurliker en sagter die materiaal, hoe beter. Dis verseker nie ʼn dame wat daarvan hou om te veel van ʼn poppie te wees nie; hulle verkies om alles eenvoudig en natuurlik te hou.

Dramaties:

 Jy sal verseker nie hierdie vrou met haar opvallende stylpersoonlikheid kan miskyk nie. Haar styl is uniek en uitsonderlik. Sy het unieke meng-en-pas style en dra dit met baie selfvertroue. Haar stylvoorkeure is dramaties en sluit gewoonlik die volgende in: helder kleure, eksotiese vorms en patrone en ongewone bykomstighede.

Vroulik:

Die vroulike stylpersoonlikheid gaan oor sagtheid, pêrels, sagte, vloeiende materiale en (natuurlik!) pienk. Sy voel op haar beste in sagte rokke met fyn bykomstighede. Niks is te veel moeite nie en as jy met haar getroud is, sal jy weet dat sy haar tyd neem om vir daardie aandjie uit reg te maak.

Sexy:

Vroue met ʼn sexy stylpersoonlikheid hou van die aandag op hulle en natuurlik is sensuele grimering en haarstyle net die ding daarvoor. Sy hou van rokke wat haar kurwes beklemtoon met diep halslyne en rompe wat baie been wys. Sy het baie selfvertroue en is nie bang om uit te staan nie.

Kreatief:

Hierdie vroue trek op die maat van hul eie musiek aan; om enige stylreël of modeneiging te volg, is heeltemal uit ritme met wie en wat hulle is. Van konfronterend tot kunssinnig – hierdie talentvolle vroue sit die mees onverwagte items bymekaar sodat dit perfek harmonieer.

As jy wil weet wat jou unieke stylpersoonlik is, volg hierdie skakel. Dit mag jou dalk net met ʼn paar rand ekstra in die sak laat en met minder klere in die kas wat nie gedra word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.