Wat om vir jou somersvakansie te pak

(Foto: @stilclassics/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Soms wanneer ek vir ʼn reis beplan, wil of moet ek ʼn paar oulike goedjies koop om saam te neem. Die “wil” deel is net vir die pret, om myself ʼn bietjie voor die vakansie te bederf. Die “moet” deel is omdat ek nie altyd het wat nodig is vir die aktiwiteite op ons reis nie. Maar, ongeag of dit begeerte of behoefte is, voel ek dikwels sleg om geld op nuwe goed vir die vakansie te spandeer.

Om te verseker jy koop en pak die regte items vir ʼn somersvakansie, is hier ʼn lys van items wat jy beslis maar kan inpak. Met ʼn kapsule-klerekas (capsule wardrobe) gaan jy sommer baie opsies hê om elke dag anders te lyk.

Wat om te pak:

(Foto: Verskaf)

Drie effekleurige toppies wat los pas: As jy jou toppies pak, maak seker daar is iets spesiaals aan elkeen van hulle, soos oulike detail, ʼn mooi pasvorm of ʼn unieke kleur. Jy kan natuurlik ook tenktoppies of spaghetti-bandjie-toppies inpak!

Een somersrokkie: Jou rok kan effekleurig wees of dalk iets met ʼn patroon op. Die belangrikste ding is dat dit vir verskeie geleenthede gedra kan word.

Drie broeke/rompe – twee effekleurig en een bonte: Dit kan enige kombinasie van denim, kortbroeke of rompe wees wat jy verkies, maar elkeen moet by ten minste twee van jou toppies pas. As hulle saam met al drie kan werk, nog beter. Ek het denims hier gebruik, maar as die plek waarheen jy gaan te warm is vir denims, ruil dit vir denimkortbroeke uit. Ek het ook ʼn wit kortbroek ingepak en laastens, aangesien ek drie effekleurige toppies in die mengsel het, het ek ʼn patroonromp bygevoeg om die afdrukke sowel as silhoeëtte van my uitrustings te meng.

Een liggewig baadjie (opsioneel): Soms het ons vier seisoene in een dag; dan het jy iets om jouself mee warm te hou.

Twee tot drie pare skoene: Dit hang heeltemal af van hoeveel verskillende aktiwiteite jy gaan doen en watter soort skoene jy nodig het. Ek wil gewoonlik plat sandale hê terwyl ek op reis is, want reis beteken dikwels baie stap en aktiwiteite. Ek hou egter ook daarvan om ʼn paar hakskoene saam te neem, net vir ingeval. En dan ʼn paar slofskoene (sneakers), net om jou uitrusting so ʼn bietjie anders te laat lyk.

Een tot twee sakke: Weereens hang dit van jou aktiwiteite af. Ek hou daarvan om ʼn tas saam te neem vir wanneer ons die hele dag buite is, en ʼn lyfhandsak (crossbody) om lig tydens aktiwiteite te reis.

(Foto: Verskaf)

Bykomstighede: Dit is waar ek nie veel terughou nie. Ek het ʼn klein sakkie waarin ek gewoonlik juweliersware pak, en ek pak my gunstelinge daarin, hoe baie ek ook al kan inpas. Veral in die somer is bykomstighede die sleutel om jou klerekas te meng wanneer jy nie dinge soos baadjies of gebreide truitjies kan gebruik nie.

Nog items wat jy kan insluit is oefenklere en jou stranduitrusting (dit verskyn nie op die foto nie).

Hierdie is net 12 oulike voorbeelde van somersuitrustings wat met hierdie kledingstukke bymekaargesit kan word; daar is nog baie meer. Dit bevat ʼn mengsel van gemaklike uitrustings om mee te stap en sommige vir meer deftige geleenthede.

Pinterest het ook oulike idees vir as jy dalk nog items wil inpak. Onthou, moenie jou sonskerm vergeet nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.