Watwou vaal vellies, nóú kom hulle met Delft-motief

Die “Delft”-vellies (Foto: Verskaf)

Die meeste van ons ken vellies as die gemaklike lig- of donkerbruin skoene wat in onlangse jare nie meer slegs aan boere se voete gesien word nie, maar ook aan jongmense wat die allernuutste modeneigings wil volg.

Ná dié skoene meer gewildheid verwerf het, is vellies ook in verskeie kleure soos pienk, pers, geel, rooi en groen gemaak. Klerekas.com het die tendens pas een stappie verder gevoer met sy unieke weergawe van die tradisionele vellie.

“Klerekas.com beskou ’n paar vellies onder die topdrie gewildste items vir jou klerekas van 2019,” sê Johan Jansen van Vuuren, bemarkingsbestuurder van dié aanlyn winkel.

“Vellies, veldskoene, DKW’s of selfs staatmakers soos hulle vandag bekend staan, is al ’n Suid-Afrikaanse gunsteling sedert die 17de eeu. Die enigste verskil is dat vellies vandag nie net deur bosbewaarders en boere gedra word nie, maar dat hierdie skoen nou ’n statige mode-item is, wat graag gedra word vanaf Seepunt tot in die Jakarandastad se strate,” sê hy.

Jansen van Vuuren vertel hulle het agtergekom dat die gewildheid van vellies afgeneem het namate die meeste Suid-Afrikaners reeds hulle gunstelingpaar staatmakers gekoop het.

Klerekas.com het besluit om vir die gewone paar ’n splinternuwe baadjie aan te trek.

“Tydens vanjaar se South African Fashion Week het Klerekas.com kameras laat flikker en modefoendi’s in ekstase gehad met die bekendstelling van Suid-Afrika se allernuutste vellie-ontwerpe,” sê Jansen van Vuuren.

Hulle het unieke patrone en motiewe op die leer laat druk of laat uitsny om die vellies nuwe lewe te gee.

“Dit is nie net ’n nuutjie vir Suid-Afrika se tekstiel-leerbedryf nie, maar ook vir vellies,” sê Jansen van Vuuren.

Van die ontwerpe sluit in rose, harte, sterre, Delft-motiewe en selfs gesigte.

Volgens Jansen van Vuuren stroom bestellings vir dié unieke skoene reeds in.

“Mense van Kanada, Nieu-Seeland, Namibië, Botswana, Australië, Nederland, Sjina – die wêreld is gaande daaroor. Deels omdat die skoene so gemaklik dra, maar ook omdat die nuwe ontwerpe vindingryk is,” sê hy.

Vir meer oor dié unieke vellies, besoek www.klerekas.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leonórah ·

Kan regtig nie dink hulle gaan dit in nederland dra nie

Leandri Venter ·

Hierdie vellies is te pragtig! My bestellings is in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.