Wenke vir gepaste kleredrag by die werk

‘n Sjiek witkraaghemp is ‘n staatmaker in elke vrou se klerekas. (Foto: Klerekas.com)

Deur Rianca de Wet

Gedurende die afgelope jaar het Covid-19 sommige werknemers van maatskappye gedwing om van die huis af te werk.

Alhoewel dit aanvanklik wonderlik geklink het, het werk van die huis af baie van sy eie uitdagings meegebring.

Een van die uitdagings is dat daar nou ʼn landwye tendens is dat werknemers minder aandag aan hul voorkoms spandeer. Jy hoef mos nou nie noodwendig meer netjies aan te trek in ʼn era waar slenterklere koning kraai en meeste afsprake oor Zoom plaasvind nie.

Werkdrag het oor die afgelope dekade drasties verander, maar is kleredrag in die werkplek vandag steeds belangrik?

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat lui: “A business with no sign, is a sign of no business”.

Kliënte moet ʼn sakeonderneming gereeld raaksien om dit te herken. As gevolg van Covid-19 besoek kliënte baie selde nog ʼn onderneming en afsprake geskied meestal aanlyn. Met ander woorde, die indruk wat kliënte van ʼn besigheid vorm is gebaseer op die onderneming se personeel, en hul voorkoms.

Soos meeste van ons al gehoor het, is eerste indrukke blywend.

  • ʼn Mens kry ʼn indruk van jou binne die eerste 7 sekondes wat hulle jou ontmoet het.
  • 95% van hul indruk is gebaseer op hoe jy lyk, 3% daarvan op hoe jy klink en net 2% op dit wat jy sê.
  • Met ander woorde, mense oordeel hoe jy lyk, lank voordat hulle hoor hoe jy klink of wat jy sê.
  • Dis juis daarom dat dit so belangrik is om gepas aan te trek vir werk, geleenthede en funksies.

Meeste werkplekke se kleredrag kan in vier kategorieë gedeel word.

Neutrale kleure vorm ʼn goeie basis vir jou werkklere. Dit pas by alles en mens kan dit op soveel maniere en by soveel ander kledingstukke dra en steeds deftig lyk. (Foto: Klerekas.com)

Formeel

Formele werkdrag is die strengste wanneer dit by kleredrag kom. Dit beteken daar word van manspersoneel verwag om ʼn formele pak klere, met ʼn knopieshemp en ʼn das te dra. Damespersoneel moet formele broeke, rompe, netjiese bloese of rokke dra. Dis baie belangrik dat werknemers ten alle tye netjies lyk.

ʼn Voorbeeld van só ʼn werkplek is ʼn prokureursfirma waar daar van werknemers verwag word om in die hof te verskyn.

Professioneel

Professionele werkdrag is nie so formeel soos formele werkdrag nie, maar dit is steeds konserwatief en tradisioneel. Waar formele werkdrag baie gebind word tot swart, navy en wit, is daar hier meer spasie vir kleurvolle kleredrag. Daar word steeds van mans verwag om netjiese broeke en knopieshemde te dra, asook baadjies en dasse vir sommige geleenthede. Dames dra rokke, rompe of broeke en bloese in verskillende kleure en patrone en kan ook juwele dra.

‘n Sjiek kraaghemp is ‘n staatmaker wat in elke vrou se klerekas ‘n plek het. Dit is baie veelsydig en kan by ʼn verskeidenheid style gedra word. (Foto: Klerekas.com)

Semiformeel

Semi-formele werkdrag beteken dat jy steeds ʼn mate van professionaliteit moet handhaaf. Mans dra steeds langbroeke met knopieshemde en dames dra rokke, rompe of broeke met netjiese bloese. Werknemers het egter meer vryheid wat hulle bykomstighede en skoene aanbetref.

Informeel

Informeel is die minste formele werksdrag, maar dit kan ook die moeilikste wees. Daar is ʼn baie fyn lyn tussen informeel en onnet. Dit is dus baie belangrik om steeds ʼn mate van professionaliteit te handhaaf. Jou kleredrag moet steeds skoon, gestryk en netjies wees vir werk.

Mans kan informele broeke en polohemde of selfs T-hemde aantrek. Dames het die vryheid om rokke, rompe of broeke en bloese te dra. Helder kleure en patrone is ook aanvaarbaar.

Deftige skoene is ʼn moet vir die werkplek, maar onthou gemak is net so belangrik. (Foto: Klerekas.com)

Wenke om vir werk aan te trek

Kyk wat jou baas aantrek
Wanneer jy by ʼn nuwe werkplek begin, kan dit somtyds moeilik wees om te bepaal wat om aan te trek. ʼn Maklike manier om aanvaarbaar aan te trek, is om min of meer dieselfde styl as jou baas aan te trek. Indien jou baas formeel aantrek, is dit ʼn goeie idee om ook formeel aan te trek. Indien hy/sy meer informeel aantrek, is dit ook ʼn goeie aanwysing van wat om aan te trek.

Onthou, eerste indrukke is blywend
Jy wil nie jou bestuur laat twyfel in jou vermoëns as gevolg van jou kleredrag nie. Dus, trek elke dag aan asof jy daai verhoging verdien.

Dra elegante bykomstighede vir werk. Bykomstighede rond enige uitrusting af. Jou bykomstighede moet egter nie te groot of te waaghalsig wees dat dit ander se aandag aflei nie. (Foto: Klerekas.com)

Wees professioneel, maar terselfdertyd gemaklik
Al het jou werkplek nie ʼn kleredragbeleid nie, is dit nog steeds nie aanvaarbaar om dieselfde aan te trek as wanneer jy ontspan of die gimnasium besoek nie. Ongelukkig beteken dit dat jy jou ski pants by die huis moet los wanneer jy gaan werk.

Netheid
Sekere standaarde tel altyd. Al is dit aanvaarbaar om denims na jou werkplek toe te dra, maak altyd seker dat dit in ʼn goeie toestand is.

Daar is niks meer frustrerend as wanneer jou hare in jou gesig hang nie.
Kopbande en haarknippies is tans hoogmode en ʼn vinnige manier om jou hare vir werk te stileer. Dit verg nie veel moeite nie en boonop lyk dit nog mooi ook. (Foto: Klerekas.com)

Hou altyd jou werkdrag so formeel as moontlik.
Wanneer jy by ʼn nuwe werkplek begin, is dit altyd beter om eerder meer formeel aan die begin aan te trek, totdat jy die kleredragbeleid in die werkplek verstaan. Oor die algemeen is dit moeilik om verkeerd te gaan, solank jy skoon, netjies en professioneel lyk. Maak seker dat jou werkdrag iets van jou karakter, selfvertroue en trots beklemtoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.