Wenke vir haarkleur wat hou

Foto ter illustrasie. (Foto: Cottonbro/Pexels)

Jy is behoorlik verlief op jou nuwe haarkleur, maar hoe gemaak om dit so te behou? Hier is ʼn paar wenke en truuks om seker te maak jou nuwe haarkleur vervaag nie te vinnig nie.

Moenie dadelik was nie

Probeer om minstens 24-uur te wag voordat jy jou hare ná ʼn nuwe kleursessie was. Dit sal die haarkleur kans gee om behoorlik in jou hare in te trek. As jy nie kan wag vir die gevoel van skoongewaste hare nie, oorweeg dit om jou hare net met koue water af te spoel.

Nuwe haarkleur, nuwe sjampoe en bevogter

Talle produkte op die winkelrakke bevat soute, sulfate en ander skoonmaakmiddels. Dit maak die produkte nie net goedkoper nie, maar die bestanddele stroop jou haarkleur.

Soek eerder produkte wat sulfaat- en alkoholvry is. Dit werk net so goed en sal jou hare help om die kleur langer te behou.

Baie vroue verkies om hulle hare elke dag te was, wat ongelukkig beteken jy stroop jou hare van die natuurlike olies en die kleur, selfs al is dit professioneel gekleur.

Probeer om jou hare eerder elke tweede of selfs derde dag te was en gebruik ʼn droë sjampoe as jou hare gou olierig of vuil lyk.

As jy kan, is dit die beste om ʼn sjampoe en bevogter aan te skaf wat spesifiek ontwikkel is om gekleurde hare te behandel. Dit sal help om jou haarkleur se nuwe glans veel langer te laat hou.

Hitte is die vyand

(Foto: Valeriia Kogan/Unsplash)

Warm water droog nie net jou vel uit nie, maar dit laat ook jou haarkleur vinniger vervaag. Warmer water maak die haarskag oop en stel jou kosbare nuwe haarkleur en die vog uit jou hare vry.

Was en spoel jou hare af met water wat by kamertemperatuur is. Maak dit dan effens droog, gebruik bevogter en spoel dit af met die koudste water wat jy kan verduur om te verseker dat die haarskag verseël bly. So hou jou haarkleur nie net langer nie, maar jou hare lyk ook mooier omdat dit terselfdertyd gesplete punte help voorkom.

Vermy ook stileringsgereedskap wat hitte gebruik pas nadat jy jou hare gekleur het. Hoewel haardroërs en -tange dikwels onontbeerlik is in jou mooimaakroetine, gaan dit jou haarkleur vinniger laat vervaag. Probeer dus om dit in die eerste week ná die nuwe kleurbehandeling te vermy.

As jy die stileringsgereedskap weer moet gebruik, kan jy jou hare beskerm met stileringsprodukte wat ʼn ingeboude hittebeskermingsmiddel bevat.

Swem – en sonslimmer

Chloor in die swembad gaan vir seker jou haarkleur vinnig laat vervaag. As jy wel wil afkoel van die somerhitte, oorweeg dit om ʼn inbly-bevogter op jou hare aan te wend voor jy in die swembad spring. Meng bevogter en water in ʼn spuitbotteltjie en spuit jou hare voor en nadat jy in die swembad of see geswem het om jou haarkleur langer te laat hou.

Die son kan ook jou haarkleur laat vervaag. Dra ʼn hoed as jy tyd buite deurbring of soek die koelte op om jou hare te beskerm.

Bronne: StyleCaster, Today.com, Dermstore en UrbanCompany

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.