Vyf velsorgwenke vir die somer

Die vel wat jy nou het, is die enigste vel wat jy ooit gaan hê. Dit is dus slim om so goed moontlik daarna om te sien, veral in die warm somermaande wat Suid-Afrika ervaar. Maak seker jy pas jou roetine aan met dié vyf wenke om te voorkom dat die somer se hitte onnodig sy tol op jou vel eis.

Moenie van jou nek, bors en hande vergeet nie!

Mense koop dikwels duur velprodukte, maar dan smeer hulle dit nie aan hul bors, nek en hande nie, terwyl dié dele van jou lyf net soveel blootstelling aan die son kry as jou gesig.

Maak ʼn punt daarvan om jou gesigroom ook oor jou nek te smeer. Smeer dit ook oor jou bors wanneer jy ʼn hemp gaan dra waar dit blootgestel word. Die vel op jou bors en nek is baie dun en verouder dus vinnig.

Indien jy jou velprodukte langer wil laat hou en dit nie op jou nek en bors wil gebruik nie, wend ten minste sonbrandroom aan dié dele aan.

Jou hande is dikwels die gereedskap wat gebruik word om die son mee uit jou oë uit hou. Dit is ook gedurig in die son wanneer dit op jou stuurwiel lê. Om sonbrandroom aan die bokante van jou hande te smeer is uiters belangrik en moet by jou daaglikse roetine ingesluit word.

Stort in kouer water

Dit is nie net beter vir jou vel om in kouer water te stort in die somer nie, maar dit is eintlik ook glad nie nodig om dieselfde temperatuur as in die winter te gebruik nie, aangesien die temperatuur buite reeds warmer is.

Warm water droog die vel nog meer uit, wat die son reeds deur die dag doen. Koue water hou die vog in jou vel, is verfrissend en vernou bloedvate wat jou vel minder rooi sal laat voorkom.

Versorg jou oë

Die vel rondom jou oë is baie dun en sensitief, daarom is dit belangrik om in die somer ʼn groot donkerbril te dra wanneer jy buite is. Dit beskerm nie net jou pupille teen skadelike strale van die son nie, maar dit beskerm ook die sensitiewe vel rondom jou oë teen veroudering.

Jy kan ook ʼn bevogtigende en/of verfrissende oogroom koop om die ekstra vog wat die son uit jou vel uit haal, terug te sit.

Bevogtiging

Om jou oë te bevogtig is net één faset van ekstra bevogtiging wat jou somer-velsorgroetine meebring. Wees ook op die uitkyk vir bevogtigende gesigwasseep en -room.

Drink genoeg water en eet kos met ʼn hoë waterinhoud soos spanspek en waatlemoen. Dit sal help om die droë somervel weg te hou.

Maak jou vel behoorlik skoon

Sonbrandroom, sweet en dooie velletjies as gevolg van dehidrasie kan daartoe lei dat jou vel slegter raak en jou porieë verstop. Hoewel dit die hele jaar lank belangrik is om jou vel goed skoon te maak, moet jy veral in die somer daaraan aandag gee.

Gebruik ʼn afskilferaar minstens een maal per week oor jou gesig, maar ook oor die res van jou lyf. Dit help dat jou vel nie verstop nie, dat dit jou velprodukte ten beste kan absorbeer en dat jou vel gesond lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae