Wenke: Maak jou tuin klein-hondjie-vriendelik

(Foto: Dominika Roseclay/Pexels)

Baie geluk! Jy het die sprong geneem en die opwindende en soms chaotiese wêreld van troeteldiereienaarskap betree.

Klein hondjies is besonder energiek en sommer ekstra nuuskierig, daarom moet jy nou planne maak om jou tuin en huis ʼn veilige woonplek vir jou hondjie te maak. Jy sal verbaas wees om te sien in watter soort situasies jou hondjie kan beland. Jou agterplaas of tuin gaan waarskynlik jou hondjie se speelplek en badkamer wees, daarom is dit belangrik om seker te maak jou hond kan hier baljaar sonder enige onnodige probleme.

Omhein jou tuin

Die beste heining is hoog genoeg sodat jou hondjie nie daaroor kan spring nie. Daar moenie enige gate wees in die heining wees waardeur jou hondjie kan kruip nie. Neem die grootte en ras van jou hondjie in ag; gaan die hondjie tussen die palissade-heining deur, of onderdeur die motorhek kan kruip? Tref bykomende voorsorg sodat as nuuskierigheid die oorhand kry, jou klein hondjie nie maklik uit die tuin kan ontsnap nie.

Water en skadu

Jou jong hondjie gaan altyd skaduwee benodig om in te rus, veral as dit warm buite is. As jou hondjie wel buite moet bly moet dit ook ʼn warm plek hê waar hy of sy teen die winterkoue kan skuil. Sorg dat daar altyd genoeg vars water byderhand is vir jou hondjie om te drink in die tuin.

Giftige plante

Klein hondjies kou aan amper alles en jou gunstelingplante gaan dit moontlik ook iewers in die toekoms ontgeld. Maak seker jy het alle giftige plante uit jou tuin verwyder. Maroela Media het ʼn lys van plante geplaas wat giftig vir honde en katte is, maar praat gerus ook met jou veearts of ʼn tuinboukundige as jy steeds onseker oor seker plante is.

Kaktusse en vetplante met dorings is wonderlike sierplante, maar kan gevaarlik vir jou jong hond wees. Die plante kan ʼn uitbundige hond steek of in hul pels vassit wat probleme kan veroorsaak.

Swembaddens en waterfokuspunte is net so gevaarlik vir klein hondjies. (Foto: Stephanie Cook/Unsplash)

Bedek jou swembad

Swembaddens en waterfokuspunte is net so gevaarlik vir klein hondjies soos vir jong kinders. Omhein jou swembad of bedek dit met ʼn seil om te verhoed dat jou hondjie per ongeluk in die swembad val en verdrink. Doen moeite om jou hondjie te leer hoe om die swembad veilig te gebruik. Dit is belangrik dat jou hond weet aan watter kant die trappe is en hoe om by die swembad uit te klim. ʼn Honde-afrigter kan jou ook met die soort opleiding help.

ʼn Eie stukkie tuin

Wys ʼn stuk van jou tuin net aan jou hondjie toe as die gedeelte wat jou hondjie as sy badkamer kan gebruik. Dalk kan jy nog ʼn stukkie tuin afstaan waar jou hond kan speel en gate grawe as dit ʼn terriër, soos ʼn Jack Russel, is wat lief is vir dié soort spel.

Rande en verhoogte beddings

Rande en verhoogde beddings kan jou plante en blomme teen verwoesting beskerm en die vrede met die tuinier in die gesin help bewaar. Laat jou kreatiwiteit jou lei en gebruik verskillende kleure of maak ʼn bedding in ʼn ou kruiwa of vat. Daar kan jou blomme floreer sonder dat jou hondjie daarin klim of dit opgrawe.

Hou dit netjies

Sny die gras gereeld en hou die res van die tuin netjies. Dit help veral om bosluise te voorkom wat lief is om in die lang grasse te skuil. As jou tuin en plante onlangs met kunsmis, plaag- of insekdoders behandel is, is dit raadsaam om eerder jou hondjie heeltemal uit die tuin te hou. Die soort chemikalieë kan skadelik vir ʼn jong hondjie wees. Wees veral versigtig vir slak- en rottegif.

Kies geharde grassoorte soos kikoejoe om die skade van grawery, urine en mis op die grasperk te beperk.

Hou die tuinier in die gesin gelukkig deur rande en verhoogte beddings in die tuin aan te bring. Loop ook lig vir enige giftige plante in die tuin. (Foto: Dominika Roseclay/Unsplash)

Ruim gereeld op

Tel gereeld die hondemis in jou tuin op. Dit is beslis nie ʼn lekker werk nie, maar dit moet gedoen word en gereeld ook, en sal ook voorkom dat jou hondjie sy eie mis vreet.

Hoe toesig oor jou hondjie

Jong hondjies kan nie alleen buite gelaat word nie. Gebruik die tyd buite om met jou nuwe hondjie te speel en op te lei. Maak ook seker tuinhekkies kan self sluit en as jy ʼn deur het wat direk op die straat oopmaak is dit raadsaam om altyd seker te maak dat jou hondjie se halsband aan is om te verhoed dat hy of sy direk straat toe draf as die deur oopmaak.

Motors wat by die motorhuis of oprit in- en uittrek is maar altyd ʼn gevaar, veral vir jonger hondjies. Hou die hondjie eerder heeltemal uit die area waar die motor in- en uitry.

Onthou jou jong hondjie is heeltemal van jou afhanklik vir alles en jou hondjie se veiligheid moet jou eerste prioriteit wees. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid maar dit is beslis die moeite werd.

Bronne: 1001gardens.org, Purina, PawTracks.com en American Kennel Club

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.