Woef en kiets moet eerder hier verby hou

Het jy geweet aalwyne is nie goed vir honde nie? (Foto: Verskaf)

Het jy geweet rosyne en druiwe is gevaarlik vir honde en katte? En as jou troeteldiere te veel daarvan eet, kan dit selfs nierversaking veroorsaak.

Dr. Guy Fyvie, veeartsenykundige adviseur van Hill’s Pet Nutrition, sê troeteldiereienaars is gewoonlik bewus van algemene gevare vir hulle vierpotige vriende.

“Ons weet ons moet seker maak dat ons kat of hond nie in die strate ronddwaal nie, of gereeld die nodige inentings kry, maar wat van die verskuilde gevare in en om die huis wat nie altyd so voor die hand liggend is nie?”

Fyvie gee nog ʼn paar wenke van hoe om te verseker jou troeteldier bly veilig:

Ligloop vir dié plante

Daar is verskillende plante wat algemeen in Suid-Afrikaanse tuine en huise voorkom, wat besonder giftig vir troeteldiere is. Lelies, asalea, selonsrose, amarillis, krisante, aalwyn, begonia, Engelse klimop, krismisrose, tamatieplante en geraamteplant (delicious monsters) is ʼn paar van hierdie plante.

Broodbome en hul sade is veral gevaarlik en kan selfs in baie klein dosisse lewerversaking veroorsaak.

As jy ʼn klein hondjie het wat nog sy tande sny en aan alles kou, of as jou troeteldiere graag aan plante kou, kan jy jou plaaslike kwekery, tuinboukundige of veearts raadpleeg om te bevestig watter plante veilig is en watter soorte jy eerder uit jou tuin moet verwyder.

Medisyne en skoonmaakmiddels

Alle medisyne en huishoudelike skoonmaakmiddels moet buite die bereik van jou troeteldiere in ʼn kas gebêre word of so weggepak word dat hulle nie maklik daarby kan uitkom nie.

Insekte

Kakkerlakke, krieke en kewers kan ook skadelik vir jou troeteldiere wees, aangesien dit parasiete dra of selfs giftig kan wees. Indien jy die eienaar van ʼn kat is, moet jy veral bewus wees hiervan aangesien katte daarvan hou om geskenke in alle vorms aan te dra.

Verskillende troeteldiere sal op verskillende maniere reageer as hulle van die bogenoemde items eet.

Fyvie sê algemene simptome sluit braking, lusteloosheid, spierswakheid, diarree en ʼn verlies aan eetlus in.

“As jy dink jou troeteldier het dalk iets geëet wat giftig of gevaarlik is, is die beste raad om sou gou moontlik by jou veearts uit te kom vir ʼn ondersoek. So kan die oorsaak van die simptome gediagnoseer word en kan met behandeling begin word.”

Fyvie benadruk dat sjokolade, veral donker sjokolade, gevaarlik vir troeteldiere is!

“Bewys eerder jou liefde aan jou troeteldiere deur tyd saam met hulle te spandeer, speletjies te speel, met hulle te gaan stap of gesonde voedsame kos te voer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.