Gereelde vrae oor Maroela-fontein

Wat is die verskil tussen ’n gebruikernaam, noemnaam en skuilnaam?

Op Maroela-fontein kry lesers die geleentheid om hulself aan die ander lesers bekend te stel met ’n ander naam as hul regte noemnaam. Die naam wat ander lesers sien, word jou skuilnaam genoem. Nadat jy deel word van Maroela-fontein, word jou noemnaam langs jou kommentaar vertoon totdat jy jou profiel voltooi en ‘n skuilnaam verskaf.

Wanneer jy deel word van Maroela-fontein, verskaf jy ’n gebruikernaam. Dit word slegs gebruik om by Maroela-fontein in te teken en is nie sigbaar vir ander lesers nie.

Gebruikername en skuilname moet uniek wees.

My gebruikernaam of e-posadres word nie herken nie. Wat nou?

Wanneer jy die vorm invul om deel te word van Maroela-fontein, word ‘n e-pos aan jou geregistreerde e-posadres gestuur. Jy moet op die skakel in die e-pos klik om jou profiel te aktiveer voordat die skakel verstryk. Dan sal Maroela-fontein jou e-posadres herken sodat jy kan inteken.

Hoe verander ek my gebruikernaam?

Gebruikername kan ongelukkig nie verander word nie. Dit word slegs gebruik wanneer jy by Maroela-fontein inteken en is nie vir die publiek sigbaar nie. Indien jy van jou gebruikernaam ontslae wil raak, moet jy jou profiel verwyder en van voor af as Maroela-fonteiner registreer.

Hoe kies ek ’n wagwoord vir Maroela-fontein?

Wagwoorde waar die letters deur gelykvormige syfers vervang word (3 vir ’n e, 0 vir ’n o, @ of 4 vir ’n a), word nie beskou as sterk wagwoorde nie. Sulke wagwoorde kan relatief maklik ontrafel word. Vermy ook datums, name, vanne, bekende plekname, Engelse woorde en naasliggende karakters op jou sleutelbord. Gebruik eerder ’n kombinasie van lukrake woorde in kombinasie met ’n syfer en ’n spesiale karakter wat langer is as 10 karakters.

Wenke:

  • Moenie jou wagwoord op meer as een webwerf gebruik nie. As dit op een webwerf uitlek, kan dit moontlik op ander webwerwe gebruik word om jou rekening te ontsluit.
  • Gebruik ’n diens om jou wagwoorde te bestuur. Voorbeelde is Bitwarden, LastPass, 1Password, Dashlane, RoboForm en KeePass.

Wat is Maroela-fontein?

Maroela-fontein is ons digitale dorpie. As ʼn inwoner geniet jy talle voordele (onder andere om jou sê te sê in die kommentaar onderaan berigte). Hoe langer jy ʼn inwoner is, hoe meer voordele gaan jy ontsluit en hoe lekkerder gaan jy saamkuier! Jy kan gratis deel word en vir jou ʼn profiel skep.

Waarna kan ek uitsien as Maroela-fonteiner?

Wanneer jy deel word van Maroela-fontein, ontsluit jy funksionaliteit wat nie vir gewone Maroela-lesers beskore is nie:

Kommentaar

  • Jy kan slegs kommentaar lewer op Maroela Media se berigte as jy ʼn Maroela-fonteiner is. Alle bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname geld steeds.
  • As jy ʼn Maroela-fonteiner is, en ingeteken bly, dan hoef jy boonop nie elke keer jou naam en e-posadres in te vul wanneer jy kommentaar wil lewer nie.
  • Jy kan ook maklik in die kommentaar aandui of jy met iemand anders se terugvoer saamstem of nie saamstem nie.
  • Jy kan ʼn ander Maroela-fonteiner se kommentaar rapporteer as jy dink dit is onvanpas of aanstootlik.

Emosies

Soms laat ʼn berig jou lag, soms is jy hartseer oor die nuus en soms is jy verstom oor politici se jongste doen en late. Nou kan jy maklik wys hoe ’n storie jou laat voel deur die gepaste emosie bo-aan die bladsy te kies – die maroelavruggie kan lag, huil, en knorrig wees. Dis mos nou baie makliker as om telkens kommentaar te moet lewer!

E-poskaarte

Of dit nou Valentynsdag, Braaidag, Moedersdag, Kersfees of iemand se troue, verjaarsdag of swangerskap is – nou kan jy seker maak jy stuur ʼn boodskap-met-flair. Herleef die nostalgie om ʼn poskaart vir ʼn geliefde te stuur, maar met die gerief van moderne tegnologie!

Tiekies

  • Deur Maroela Media se webwerf te gebruik, verdien jy tiekies vir alles wat jy doen.
  • Tiekies bepaal jou status op Maroela-fontein, want dit wys vir ons presies hoe lekker jy saam met ons kuier – dis soos om op die kerkraad te dien, die beste koek by die basaar te bak, voorsitter te wees van die skoolbeheerliggaam, die beste vee by die veiling aan te skaf en die mooiste rose in jou tuin te hê, alles in een.
  • Tiekies het geen monetêre waarde nie en kan nie gekoop of verkoop word nie. Dis iets wat jy veilig in jou spens bêre, net soos ouma se geheime resep vir die beste Jan Ellis-poeding.
  • Sommige funksies op die webwerf kos tiekies, maar ons sal seker maak dat jy nie onnodig jou welverdiende muntstukke uit jou spaarvarkie hoef te skud nie.
  • As jy genoeg tiekies spaar, ontsluit jy ʼn erebalkie:
  • dis ons manier om jou te beloon vir jou volgehoue ondersteuning.

Erebalkies

Onthou jy daai erebalkies waarmee die leerlingraad en witbroodjies op skool altyd gespog het? Nou gaan jy jou eie erebalkies kan verdien, byna sonder om ʼn vinger te verroer. Jy ontsluit sommer dadelik ʼn “Groentjie”-erebalkie as jy ʼn Maroela-fonteiner word en dan is daar ʼn rits ander erebalkies wat jy kan ontsluit. Hoe lekkerder jy saamkuier, hoe meer erebalkies kan jy ontsluit. Word ʼn nuusneus, ʼn setlaar, ʼn informaatjie, ʼn klikkiebek en wees op die uitkyk vir nog verrassings!

Hoe word ek deel van Maroela-fontein?

  1. Vul die vorm volledig in
  2. Maak die e-pos oop wat aan jou gestuur is
  3. Klik op die skakel binne die e-pos om jou profiel te aktiveer voordat die skakel verstryk
  4. Teken in

Dis gratis, mahala, verniet, Nkandla.

Moet ek betaal om deel te wees van Maroela-fontein?

Nee. Maroela-fontein is gratis, soos koeksisters by jou ouma of biltong op oom Japie se plaas. Jy hoef ook nie bekommerd te wees oor erfbelasting, beurtkrag of waterbeperkings nie.

Wat kan ek met my tiekies doen?

Maroela-fontein is ‘n lekker plek. Hier word jou status nie gemeet aan hoe dik jou beursie is nie, maar aan hoe lojaal jy aan Maroela-fontein is.

Hoe meer jy Maroela Media besoek, hoe meer tiekies verdien jy. Hoe meer tiekies jy verdien, hoe hoër is jou status in die Maroela-fontein-gemeenskap. Spog gerus met jou gulhartigheid op sosiale media.

  • Tiekies bepaal jou status op Maroela-fontein, want dit wys vir ons presies hoe lekker jy saam met ons kuier – dis soos om op die kerkraad te dien, die beste koek by die basaar te bak, voorsitter te wees van die skoolbeheerliggaam, die beste vee by die veiling aan te skaf en die mooiste rose in jou tuin te hê, alles in een.
  • Tiekies het geen monetêre waarde nie en kan nie gekoop of verkoop word nie. Dis iets wat jy veilig in jou spens bêre, net soos ouma se geheime resep vir die beste Jan Ellis-poeding.

Waarvoor verdien ek tiekies?

  • Wanneer jy deel word van Maroela-fontein
  • Wanneer jy jou profiel voltooi op Maroela-fontein
  • Elke keer wanneer jy ʼn storie deel op sosiale media
  • Elke keer wanneer jy ʼn artikel lees
  • Elke dag wanneer jy na Maroela terugkeer om die jongste nuus te kom lees
  • Elke keer wanneer jy jou emosie wys op ʼn artikel (klik op die maroela-vruggie heel bo-aan artikels)

Is my besonderhede veilig gestoor, wanneer ek deel is van Maroela-fontein?

Ja. Lees Maroela Media se vertroulikheidsbeleid.

Hoekom moet ek my profiel voltooi?

Die burgemeester en dorpsraad van Maroela-fontein wil graag weet wie jy is! Jy kuier al lank hier op Maroela Media, en jy ken ons reeds baie goed – ons is jou bron van gratis Afrikaanse nuus. By ons voel jy tuis en jy weet met ʼn geruste hart dat ons nuus geloofwaardig en betroubaar is.

Maroela Media is die plek waar jy jouself kan kom tuismaak: dis waar jy op hoogte bly met al die jongste nuus, sportnuus, Afrikaanse nuus, vermaaknuus, goeie nuus en sommer nog vele meer.

Nou wil ons graag weet wie jy is! So kan ons jou beter bedien met inhoud wat vir jou saak maak. En dis mos altyd lekker om te kan blad skud met ʼn vertroueling.

Hoekom kan ek nie meer kommentaar lewer nie?

Wou jy as Maroela-leser kommentaar lewer en toe verskyn daar skielik ʼn intekenblokkie? Ons lesers se kommentaar en insette maak van Maroela Media ʼn gemeenskapswebwerf waar sinvolle gesprekke kan plaasvind.

Die kommentaarstelsel spog nou met splinternuwe funksionaliteit sodat jy nog lekkerder kan saamkuier. Om daarvan gebruik te maak, moet jy vir jou ʼn gratis profiel skep sodat jy deel kan word van Maroela-fontein. Slegs Maroela-fonteiners mag kommentaar lewer op Maroela. (En onthou, jou Maroela-fontein-paspoort is nie ʼn toegangskaart om enigiets in die kommentaar te skryf nie. Alle kommentare word steeds gemodereer volgens ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname.)

Die lekkerte is dat dit nou nie meer vir jou nodig sal wees om telkens jou naam en e-posadres in te tik by elke kommentaar nie. As jy ingeteken bly op jou profiel, dan sal jy volgende keer maklik kan kommentaar lewer.

Nog ʼn lekkerte is dat jy nou maklik kan aandui of jy met ʼn ander Maroela-fonteiner se kommentaar saamstem of nie – net soos wat ʼn “thumbs up” of “thumbs down” werk.

Kommentaar is sigbaar vir Maroela-lesers wat nie ʼn profiel het nie, maar slegs Maroela-fonteiners kan kommentaar lewer.