‘Zuma, moenie wetsontwerp teken’: President kry 5 000 e-posse in 24 uur

Meer as 5 000 lede van die publiek het sedert gistermiddag hul protes oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting direk aan pres. Jacob Zuma bekend gemaak deur aan hom ʼn e-pos vanaf AfriForum se webblad, www.thebillstopshere.co.za, te stuur.

Die eerste paar e-posse het gistermiddag omstreeks 15:30 ingekom, sowat 90 minute nadat die webblad amptelik bekend gestel is. “By kantoorsluiting gistermiddag het die publiek reeds sowat 1 000 e-posse aan die staatspresident gestuur, en deur die nag het nóg sowat 1 000 ingekom. Vanoggend het ʼn verdere 3 000 e-posse ingestroom, met byna een e-pos elke vyf sekondes,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Volgens Roets is die webblad daargestel om mense ʼn platform te gee om by die debat oor die wetsontwerp betrokke te raak. Die e-pos, wat Zuma versoek om nie die wetsontwerp te teken en dit daardeur amptelik ʼn wet te maak nie, word aan Zuma se persoonlike e-posadres en dié van sy assistente gestuur.

Die e-pospetisie is deel van AfriForum se vyfpuntplan teen die inligtingwet, wat ook op die webblad beskikbaar is.

“Ons het die webblad nie deur middel van advertensies bemark nie. Die bemarking van die veldtog berus byna uitsluitlik op die publiek se deelname daaraan deur middel van Facebook en Twitter. Verskeie kunstenaars en ander invloedryke persone het ook reeds hul ondersteuners aangemoedig om die petisie te teken. Dit is ʼn sprekende voorbeeld van die krag van sosiale media,” het Roets gesê.

“Die oorweldigende deelname aan die veldtog deur die publiek is ʼn duidelike aanduiding dat die regerende party uit voeling is met die behoeftes van gewone landburgers,” het hy bygevoeg.

Die e-pos aan die staatspresident lees soos volg:

“I, the undersigned South African citizen, would hereby like to state my concern with the so-called Protection of State Information Bill. I am of the opinion that the Bill in its current form will be detrimental to accountability and effective governance in South Africa, that it will have a negative impact on the fight against corruption, and that it will severely curtail the role of the media as a watchdog of society. I hereby request that you prevent this Bill from becoming a law by refraining from signing it.”

Die webblad bevat ook meer inligting oor AfriForum se veldtog teen die inligtingwet, wat skrywes aan die Parlement, ʼn regsmening oor die grondwetlikheid daarvan en ʼn uiteensetting van die negatiewe impak wat die wet op die samelewing sal hê, insluit. Die publiek kan ook R10 bydra tot die regskostes om ʼn aansoek teen die wetsontwerp by die Konstitusionele hof in te dien, deur die woord “Forum” na 38655 te SMS.

“Aangesien dit ʼn wetgewende proses is, was die stryd teen hierdie wet tot nou toe grootliks in die hande van opposisiepartye. Die status quo is egter besig om te verander en die groot geveg begin nou eers,” het Roets gesê. “Selfs al moet ons by die Verenigde Nasies teen hierdie wet baklei, sal ons nie stop totdat ons in ons doel geslaag het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.