“Dit was vir Bjorn,” sê Bulls-ondersteuner

Johannes Nel verlaat die veld na die voorval. Foto: Youtube

Die Bulls-ondersteuner wat na afloop van Saterdagaand se Super 15-wedstryd tussen die Bulls en die Blues op Loftus Versfeld in hegtenis geneem is, het om verskoning gevra.

Pretoria News berig dat Johannes Nel (54) om verskoning gevra het aan die Blou Bulle Maatskappy (BBM), die publiek, die ondersteuners en die res van Suid-Afrika na hy ʼn plastiekbottel op die veld gegooi en die Blues se kaptein, Keven Mealamu, raakgegooi het. Nel, ʼn ketelmaker van Welbekend, sê hy wou nie moeilikheid maak nie, maar was bekommerd dat Bulls-vleuel Bjorn Basson beseer was na hy ʼn drie gedruk het in die doodsnikke van die wedstryd. Die Blues se Rene Ranger is ʼn skorsing van twee op die hals gehaal na ‘n gevaarlike duikslag op Basson. Nel sê hy en vriende was besig om die stadion te verlaat toe hy sien Basson lê op die veld. “Toe ek hom op die veld sien lê het ek gestres en gedink hy het seergekry. Ek het afbeweeg en oor die reling geklim om te kyk of hy reg is.” Basson het glo aan hom gesê “Ek is ok dankie, oom.” Nel sê Basson het terug op die veld geloop en hy het opgemerk Basson het sy bottel daar vergeet. “Ek het die bottel opgetel, sy naam geroep en toe hy omkyk, het ek die bottel vir hom gegooi. Dit is toe dat dit die Blues se kaptein getref het.” Nel moes Maandag in die Pretoria landdroshof verskyn maar die saak is nie op die rol geplaas nie. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.