“Hel” bars los in Heilbron

Die gemeenskap en polisie van Heilbrond krap kop oor talle brande wat die afgelope week by nagenoeg tien plekke in die dorp uitgebreek het. Sommige inwoners het hulle tot Facebook gewend, en gevra vir gebed om die “hel” wat daar uitgebars het, te beveg.

Volgens die Heilbron Herald is ʼn voertuig Dinsdagaand by die Kalli-woonstelle uitgebrand. Van Jolene Herbst, ’n apteker van Heilbron, se splinternuwe Toyota Aygo het letterlik niks oorgebly nadat dit ook in ’n brand verwoes is nie. Dieselfde aand het ’n brand ook by TrenTyre ontstaan waar ’n waentjie in die slag gebly het.

Vroeg Donderdagoggend het die booswigte hul taak hervat en nog agt verskillende brande het ontstaan. By ’n gastehuis in Heilstraat het twee voertuie groot skade opgedoen. ’n Isuzu-bakkie en ’n Honda Ballade het uitgebrand. Na wat verneem word, het die brand in die vroeë oggendure ontstaan. Min of meer dieselfde tyd is ’n brand ook by ʼn kwekery gestig. Die booswigte het brandbare materiaal aan die brand gesteek en aan die agterkant van die kwekery by ’n venster ingegooi. Die brand het nie na die res van die gebou versprei nie.

’n Grasdak-gebou in die omgewing is ook aan die brand gesteek, maar die struktuur het nie vlam gevat nie. Verskeie woonhuise, ’n hardewarewinkel, die biblioteek en ’n vulstasie het ook dieselfde aand deurgeloop. In al die voorvalle word brandstigting vermoed en geen diefstal of aanvalle is aangemeld nie.

Gerugte doen die rondte dat kinders opgemerk is waar hulle van ’n perseel weggehardloop het. Dit kon egter nie bevestig word nie. Dit is ook nog nie presies duidelik wat die misdadigers doen of gebruik om die brande te begin nie.

Die Heilbron-polisie het Vrydag na verskeie pogings nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

Volgens ʼn streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou ondersoek polisie die saak, maar niemand is nog in verband met die voorvalle aangekeer nie. “Ons en die polisie is in die duister oor dié dade en weet nie wat die motiewe daaragter is nie. Almal in die omgewing is wel paraat vir wat ook al mag gebeur, maar dit is ʼn nagmerrie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.