“Polisie het my gekaap”

ʼn Man is Vrydagaand in Johannesburg deur mans wat hulself as polisielede voorgedoen het, met ʼn vuurwapen aangehou en van sy Porsche beroof. Die mans was in volle polisiedrag.

The Star berig Ryan Pickford het Vrydagaand die Morningside-kliniek besoek, waar sy 3-jarige seuntjie in die hoë-sorgeenheid was.

Hy het omstreeks 20:00 naby die Leeuwkop-gevangenis in Mainweg gery toe ʼn wit Golf GTI hom begin agtervolg het. Die voertuig het sy blou ligte aangesit en aangedui Pickford moet van die pad aftrek.

Twee mans in volle polisie-uniforms, met koeëlvastebaadjies en R5-aanvalsgewere, het aangedring om sy voertuig te deursoek. Nog ʼn man in ʼn polisiebeffie het na hom gestap en gesê hy moet hulle na ʼn nabygeleë padblokkade vergesel sodat hulle hom vir alkoholgebruik kan toets. Hy het ingestem en aangedrink om met sy eie kar te ry. Hy is toe geboei en in die agterste sitplek van die Golf ingeboender. Vandaar moes hy magteloos toekyk hoe die man in die beffie met sy Porsche wegry. Die gewapende mans in die Golf het vir hom gesê hy word gekaap en sal nie seergemaak word as hy sy samewerking gee nie.

Die kapers het sy selfoon en horlosie gevat en hom omstreeks 22:00 in ʼn veld in Centurion afgelaai. Hulle het hom beveel om in die veld gaan lê, waarna hulle weggejaag het.

Pickford is erg deur die voorval getraumatiseer en hou vol dit ís polisielede wat hom gekaap het, aangesien hy glo een van die mans by ʼn padblokkade herken het.

Die saak is by die Midrand-polisie aangemeld.

Lees die volle storie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.