KwaZulu-Natal beplan glo om meer as 1 000 skole in dié provinsie te sluit, het die Nasionale Vryheidsparty Vrydag gesê.
“Dit is maar ʼn droewige uitbeelding vir die toestand van onderwys in ons land en die provinsie,” het Nhlanhla Khubisa, woordvoerder vir die party, gesê.
Muzi Mahlambi, provinsiale woordvoerder vir onderwys, het gesê die NFP het nie voldoende inligting oor die transformasie van skole nie en dat die party “kwaadwillig” is. “Die NFP het ʼn politieke agenda,” het hy gesê. Hy wou nie daarop uitbrei nie.
Khubisa sê meer skole moet in die provinsie gebou word, en die departement van onderwys is agterstallig met die voorsiening van meer klaskamers.