1 145 geel rose vir vermoorde Suid-Afrikaanse boere

AfriForum en AfriForum Jeug gaan Donderdag 1 145 geel rose tydens ’n kranslegging by die departement van polisie se hoofkantoor in Pretoria neerlê. Dié getal is verteenwoordigend van die minimum getal Suid-Afrikaners wat sedert 1990 in plaasaanvalle vermoor is.

Die burgerregte-organisasie sal ook ’n memorandum aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, oorhandig waarin hy die regering vra om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar asook om spesialiseenhede vir landelike beveiliging daar te stel.

Naasbestaandes van mense wat op plase vermoor is, gaan die geleentheid bywoon en die oorledenes met die foto’s vereer ten einde gesigte en name aan die skokkende statistiek te koppel. AfriForum voer hierdie aksie uit omdat niemand, wat in ’n plaasaanval om die lewe gebring is, verdien om net nog ’n statistiek te wees nie.

AfriForum het gesê dat veel meer as 1 145 plaasmoorde sedert 1990 die land geruk het, maar dat hierdie syfer gebruik word, omdat die organisasie tans 1 145 name van vermoordes op rekord het.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit statisties bewys dat ’n boer in Suid-Afrika ’n drie keer groter kans staan om vermoor te word as ’n polisiebeampte.

Die organisasie moedig alle Suid-Afrikaners wat direk deur plaasaanvalle geraak is, om hulle storie in die boek, Treurgrond, te laat dokumenteer. Hulle kan die webwerf, www.treurgrond.co.za, besoek om die aanlyn-inligtingsvorm in te vul, die woord “Plaas” na 34388 SMS, ’n e-pos na [email protected] stuur, of Kraal-Uitgewers by 012 644 4329 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.