1 200 km binne 48 uur op fietse vir diabetes

Joel Stransky

Joel Stransky, voormalige rugbyspeler, vergesel in November ‘n groep fietsryers wat die 1 200 km tussen Johannesburg en George binne 48 uur gaan aflê.

Danzil Afrika, een van die fietsryers, sê hulle doel is om seker te maak dat kinders van benadeelde gemeenskappe betroubare toegang tot diabetes-medikasie kan bekom, berig SowetanLIVE. Die span gaan op 8 November wegspring en die Changing Diabetes® Cycle Challenge aanpak. Die organiseerders het in ‘n verklaring gesê dat hulle hoofsaaklik fondse wil insamel om behandeling vir arm kinders met dié chroniese toestand te bekom.

Joel Stransky, voormalige rugbyspeler, sal die groep vergesel. “Almal verdien om goed te voel en ‘n behoorlike wegspringplek in die lewe te kry,” het Stransky gesê. “Vir hierdie kinders beteken dit dat hulle die behandeling en sorg kry wat hulle benodig.”

Danzil Afrika buite hul huis in Oudtshoorn Foto: SowetanLIVE

Danzil is ‘n lid van die C4D (Cycle4Diabetes)-span wat deur dr. Jacques van Staden in George gestig is. Dié toegeweide groep fietsryers samel jaarliks sowat R800 000 in om 16 kinders met medikasie te help. Die insulien beloop sowat R50 000 per kind per jaar.

Dr. Timmy Kedijang van Novo Nordisk, wat C4D en nou ook die Changing Diabetes® Cycle Challenge tussen Johannesburg en George borg, het gesê dat sowat 3.5 miljoen Suid-Afrikaners diabete is. “Die probleem is egter dat slegs die helfte van dié persone reeds gediagnoseer is, en slegs die helfte van hulle ontvang een of ander behandeling. Dis hoekom ons graag hierdie tipe geleenthede borg – om mense van diabetes bewus te maak en te wys dat diabete, met die nodige sorg en behandeling, enige tipe leefstyl kan volg.”

Danzil sê sy droom is om eendag aan die Tour de France deel te neem. Hy berei nou egter vir dié uitmergelende marathon voor.

Danzil en sy ma, Trudy Afrika Foto: SowetanLIVE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.