Ongeveer 1 400 mense is Maandagoggend dakloos gelaat ná ʼn brand by Valhallapark in Kaapstad.
“Die sentrum het omstreeks 11:30 reageer op die brand by die 8th Avenue informele nedersetting,” het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die stad se rampbestuureenheid, gesê. “Nood- en rampbeheerspanne is ontbied en probeer die brand blus.”
Ongeveer 350 van die 585 eenhede in die gebied is verwoes. Die plaaslike gemeenskapsaal is ingerig om as ʼn noodskuiling te dien.
Ses mense is vir rookinaseming behandel.
Die oorsaak van die brand moet nog bepaal word.