1 448 polisielede het self al misdade gepleeg

‘n Oudit het bekend gemaak dat 1 448 polisiebeamptes al self misdade gepleeg het, het die ministerie van polisie Sondag gesê.

“Die oudit het bepaal dat 1 448 lede kriminele oortredings begaan het,” het Nathi Mthethwa, minister van polisie, gesê. Die oudit is oor die afgelope twee jaar gedoen om te bepaal hoeveel huidige lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kriminele rekords het.

Mthethwa sê polisiekommissaris Riah Phiyega moet nou bepaal watter stappe gedoen moet word. “Ek het haar en die bestuurspan opdrag gegee om voor einde Oktober vanjaar terugvoer te gee oor wat gedoen gaan word.” Hy sê daar moet ‘n regsproses wees waar “almal ‘n geleentheid gebied word om sy of haar kant van die storie te stel”.

“Ons poging om enige ongewenste elemente binne die polisie uit te roei sal egter nie deur enigiets weerhou word nie, dit maak nie saak hoe lank of wat dit sal verg nie,” het Mthethwa bygevoeg.

Hy sê die oudit het langer geneem as wat aanvanklik verwag is, aangesien die ministerie wou seker maak dat dit deeglik gedoen word. Die oudit het ook aan die lig gebring dat daar “ernstige uitdagings” rakende dissipline in die departement bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.