Tydens die verhoor het Tyree Lincoln Smith (35) glo voor hom uitgestaar en sy hande was met kettings agter sy rug vasgebind. Dit was sy eerste verskyning in die hof nadat hy verlede week in Florida aangekeer is. Die Connecticut Post berig dat die regter die evaluasie beveel het op aandrang van Smith se prokureur, Joseph Bruckmann. Smith sal tot sy volgende verhoordatum, 14 Februarie, in aanhouding bly in die lig van die $1 miljoen-borg wat toegestaan is.
Smith word daarvan aangekla dat hy op 15 Desember vir Angel Gonzalez vermoor het. Gonzalez se liggaam is op die derde verdieping van ʼn verlate huis opgespoor. Aanklaer Donal Collimore het die regter gemaan om ʼn hoë borg toe te staan wees die gruwelikheid van die misdaad. Talitcha Frazier, die slagoffer se skoonsuster, het gesê dat sy gesien het hoe Smith op straat bedel. “Ek dink ek het hom aangesê om ʼn werk te kry. Ek het in daardie stadium glad nie geweet dat hy my swaer doodgemaak het nie,” het Frazier buite die hof gesê.
Smith is onder verdenking geplaas nadat sy niggie met die polisie in verbinding getree het. Sy het aan die speurders gesê dat Smith op 15 Desember by haar huis opgedaag het en glo gesê het dat hy “bloed op sy hande” wil hê voordat hy na die verlate huis gegaan het waar hy gewoon het. Die volgende dag het Smith weer by sy niggie se huis opgedaag met bloed op sy broek, hande en ʼn byl. Smith het glo aan sy niggie gesê hy het “sy bloed gekry”. Volgens Smith se niggie het hy glo gesê hy het op die stoep by die verlate huis geslaap toe ʼn man hom wakker gemaak en in die huis in genooi het. Smith het beskryf hoe hy die man se gesig en kop met die byl gekap en toe een van sy oë en stukkies van sy brein versamel en toe in ʼn nabygeleë begraafplaas gaan eet het.
Die niggie het aan die speurders gesê dat sy Smith se ma gekontak het, wat toe op 16 Desember voorgestel het dat hulle na die verlate huis toe moet gaan en dat haar seun “sielkundige probleme” het.