‘n 10-jarige seun het Dinsdagmiddag in ʼn swembad in Randburg verdrink.
Volgens Jeffery Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911, het die seuntjie in die swembad geval by ʼn huis waar sy pa werk.
“Die pa het ontdek sy kind is weg en toe hy hom gaan soek, het hy die seun se liggaam in die water sien dryf. Dit is nie seker hoe lank hy in die water was nie,” het Wicks gesê.
Die pa het die seun se liggaam uit die swembad gehaal en hulp ontbied. Die kind was reeds dood toe paramedici op die toneel gekom het.
Wicks het gesê ʼn mens moet nie die waarde van noodhulp, soos mond-tot-mond-asemhaling, onderskat nie. Netcare911 bied verskeie kursusse aan. Vir meer inligting besoek http://secc.netcare.co.za.