100 jaar tronkstraf ná pensioen-skietery

Uzi-masjiengeweer (argieffoto)

Vyf mans wat omstanders by ‘n pensioenbetalingspunt in Kranskop, KwaZulu-Natal gewond het, is Vrydag swaar gevonnis deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg.

“Dit was ‘n ongelooflik roekelose rooftog met swaar wapens,” het regter Tule-tu Tonjeni gesê. Sy het die mans tot meer as 100 jaar tronkstraf gevonnis.

Die gewapende rooftog het in Julie 2010 plaasgevind en ‘n skietgeveg het gevolg.

“’n Vyfjarige seun het steeds ‘n koeël in sy nek en sy prognose is nie goed nie,” het Tonjeni bygevoeg. “Vier mense het ook steeds koeëls in hul lywe en hul lewens is in gevaar.”

Die vonnisse van 100 jaar sal egter gelyklopend uitgedien word, en die mans sal dus effektief 30 jaar tronkstraf uitdien. Hulle moet glo 20 jaar tronkstraf uitdien voordat hulle vir parool in aanmerking kan kom.

Volgens Tonjeni het Sizwe Tshangase (26), Muzi Ndawonde (26), Mlungisi Magwaza (22), almal van Nkandla, en Bongikwema Langa (30) en Phulani Mpembe (25), albei van Ladysmith, geen agting of respek vir ander mense se lewens getoon nie.

Vier van die mans is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede, terwyl Mpembe 20 jaar tronkstraf opgelê is, aangesien dit sy tweede skuldigbevinding is.

Al vyf mans is elk ‘n vonnis van 10 jaar opgelê vir poging tot moord op die omstanders en ‘n verdere 10 jaar vir poging tot moord op polisiebeamptes.

Tshangase is ook tot ‘n verdere 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van ‘n Uzi-masjiengeweer. Die ander is elk ses jaar opgelê vir die besit van ongelisensieerde pistole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Hulle behoort nie eers die voorreg te kry om oor twintig jaar aansoek te doen om op parool vrygelaat te word nie. As hulle daar uitstap gaan hulle geharder misdadigers wees as wat hulle was toe hulle hierdie daad uitgevoer het en gaan hulle maar net weer hul misdaadloopbaan voortsit. Hulle behoort toegesluit te word en die sleutels weggegooi te word, of sit hulle voor ‘n vuurpeloton

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.