Elf mense is Vrydagoggend beseer nadat die voertuig waarin hulle gery het op die Modder B-pad in Benoni gerol het.
Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, sê die bestuurder van ʼn minibustaxi het beheer oor die voertuig verloor waarna dit gerol het. Die voertuig het uiteindelik regop in die veld langs die pad beland. “Sewe mense is ernstig beseer en vier mense het geringe beserings opgedoen,” het Steinmann gesê.
Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na verskeie nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling.