11-jarige sorg dat moordenaar, verkragter vasgetrek word

Ao Mishak Makhubu (regs) saam met sy kollega, konstabel Ayanda Plaatjie Foto: Alfred Moselakgomo

‘n 11-jarige dogter het gesorg dat ‘n verkragter en moordenaar vasgetrek word.

Nyiko Ubisi het moontlik gedink dat hy die gereg ontglip het toe ‘n dossier met bewyse teen hom van verkragting en moord in 2005 by die polisiestasie in Thembisa verlore geraak het, berig SowetanLive.

Ao Mishack Makhubu van georganiseerde misdaad in Parktown se harde werk het egter vrug gedra toe Ubisi deur die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind is. Waarnemende regter Harold Knopp het Makhubu se harde werk erken toe hy Ubisi aan ses van die 16 aanklagte skuldig bevind het. Makhubu het Ubisi by ‘n padblokkade in hegtenis geneem. Hy het vroeër getuig dat hy besef het Ubisi word deur die polisie gesoek toe hy hom tydens die padblokkade op die polisie se databasis opgespoor het.

Makhubu het bygevoeg dat ‘n dossier met al die bewyse teen Ubisi vernietig is. Ubisi is aanvanklik op drie aanklagte van moord, drie aanklagte van poging tot moord, een aanklag van verkragting, agt aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en een aanklag van die onwettige besit van ammunisie aangekla.

Die hof het hom op twee aanklagte van moord, die verkragting, en drie aanklagte, wat die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie insluit, skuldig bevind.

Ubisi het in 2008 Nomonde Selaledi se woonstel in Hospital View in Thembisa besoek en haar aangesê om die aanklag van verkragting teen hom te laat vaar. Selaledi het vroeër’n partytjie vir haar vriend, Nomusa Seetness Selumo gehou. Die dogter, wat in daardie stadium 8 jaar oud was, het getuig dat hulle drie omstreeks 03:00 aan die slaap was toe Ubisi opgedaag het. Sy het wakker geword van ‘n argument in die woonstel.

Sy sê die argument, wat sowat 30 minute geduur het, het oor ‘n aanklag van verkragting gehandel wat haar ma vroeër teen Ubisi aanhangig gemaak het. Die dogter sê Ubisi wou hê dat haar ma die saak moet laat vaar, en toe sy weier, het hy haar vyf keer geskiet. “Hy het toe na die slaapkamer gegaan en my ma in die kop geskiet,” het sy gesê. Regter Knopp sê die dogter se getuienis is geloofwaardig en dat hy dit aanvaar.

“Die dogter se ma het inderdaad ‘n klag van verkragting teen Ubisi gelê en die feit dat sy dit geweet het, beteken dat die twee wel daaroor gestry het. Dit is nie die tipe inligting wat ‘n kind andersins sou hê nie,” het hy gesê.

Die regter het bygevoeg die feit dat die dogter geweet het dat haar ma in die kop geskiet is terwyl sy op haar maag gelê het, is deur die nadoodse ondersoek bevestig. Die dogter het ook gesê dat haar ma vyf keer geskiet is, en die nadoodse ondersoek het aangedui dat sy verskeie kere geskiet is.

Die dogter het Ubisi binne 15 sekondes tydens ‘n uitkenningsparade in Thembisa identifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.