11-jarige sterf ná raaiselagtige koma

Noulene Venter Foto: Facebook

Noulene Venter (11), ʼn graad 4-leerder aan Laerskool Tzaneen is Sondag oorlede nadat sy vir meer as twee weke lank in ʼn raaiselagtige koma was.

Noulene het op 9 November gekla dat sy naar is en sy het gaan slaap. Die Saterdagoggend kon haar ma, Mariana, en stiefpa, David, haar egter nie wakker kry nie, en het besef dat sy in ʼn koma is. Sy is dadelik na Mediclinic Tzaneen geneem waar haar hart gaan staan het.

Sy is op 12 November na die Pretoria-Oos-hospitaal oorgeplaas.

Noulene was op 14 November nog in die hoësorgeenheid op ʼn ventilator. “Sy kan nie self asemhaal nie,” het Mariana op haar Facebook-blad geskryf. Op 15 November het Mariana bevestig dat dit beter gaan met Noulene, en dat sy stabiel is. Sy het selfs op 16 November haar oë vir die eerste keer oopgemaak en haar ma se hand gedruk. “My poppie het haar ogies vir die eerste keer oopgemaak en ons hande gedruk,” het Mariana geskryf.

Die familie het die hele tyd vir ʼn bed gewag by Unitas-hospitaal waar ʼn neuroloog haar sou sien.

Op 18 November het die dokters vermoed dat sy moontlik Pompe-siekte onder lede het, en hulle het bloed getrek en na Duitsland weggestuur, het LookLocal Tzaneen berig. Pompe-siekte is glo ’n seldsame neuro-spiersiekte wat glo veroorsaak dat ‘n persoon nie kan sluk, regop sit of beweeg nie. Noulene se infeksietelling was ook laer. Noulene het dieselfde aand egter ʼn terugslag beleef. Haar infeksietelling het glo binne 12 ure van 30 na 130 gestyg. Haar niere het ook ophou werk.

Die dokters het op 20 November ʼn vogmonster geneem en haar infeksietelling was meer as 200. ʼn Breinskandering op 21 November het nie die raaisel opgelos nie. Dit was alles normaal.

Op 23 November het die dokter aangedui dat hulle, weens die uitslae van die vogmonster, ʼn buikoperasie wil uitvoer. Die dokter het in dié stadium vermoed dat dit ʼn blindederm is wat moontlik gebars het. Van die dokters was huiwerig om die operasie uit te voer, omdat sy so siek was. “Die dokter sê hy moet ander dokters oorreed om die operasie te doen, want ons kan haar dalk verloor omdat sy so siek is,” het Mariana gesê. “As ons dit egter nie doen nie, kan ons haar ook verloor.” Die operasie is uiteindelik op 24 November uitgevoer, en Noulene het op 25 November gesterf.

“Sy is gistermiddag oorlede,” het Hendrik, Noulene se pa, aan LookLocal Tzaneen bevestig. “Onse Vader het haar kom haal. Sy het baie gely en dit is nie maklik om te aanvaar dat sy nie meer met ons is nie. Maar sy is nou op ‘n veilige plek sonder pyn.

“My poppie sit nou op Liewe Jesus se skoot en hardloop in sy blommetuin rond. Sy’s nou ‘n engel van God en hou ons sterk deur die moeilike tyd. Dis nie maklik om afskeid te neem van jou kind nie, dis so onregverdig! Ek, haar pa Hendrik, stiefpa David en die familie wil net vir elkeen baie dankie sê vir hul gebede en ondersteuning in die 15 dae wat ons geveg het vir ons pop se lewe. Baie dankie julle en mag die Here julle almal seen!” het Mariana aan LookLocal Tzaneen laat weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.