11-jarige wees gelaat ná ongeluk

Eurika Burger

Eurika Burger (11) is Vrydag wees gelaat nadat beide haar ouers in ‘n ongeluk in Lephalale (Ellisras), Limpopo, gesterf het.

Eurika was steeds in die wrak vasgekeer toe paramedici van ER24 op die toneel gekom het. Sy het ‘n ernstige breuk aan haar been gehad en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Sy het egter ortopediese sjirurgie benodig wat nie by die plaaslike hospitaal uitgevoer kon word nie. Die gemeenskap van Lephalale het van haar situasie te hore gekom en dadelik ingespring en genoeg fondse ingesamel om haar na Montana-hospitaal in Pretoria oor te plaas. “’n Helikopter van die departement van gesondheid het Eurika gratis na Pretoria gevlieg,” het ER24 in ‘n verklaring bevestig.

Tydens ‘n operasie Saterdagaand is ‘n pen in Eurika se een been geplaas, en skroewe in die knie van haar ander been,” het Marietjie Kritzinger, ‘n inwoner van Lephalale, gesê. Kritzinger se dogter en Eurika is dié jaar in dieselfde klas in die skool. Eurika het ook snye aan haar kop en lip opgedoen. “Haar sleutelbeen is ook gebreek en dit behoort te genees tydens die ses weeklange bedrus wat vir Eurika voorgeskryf is.”

Eurika Burger word na Montana-hospitaal vervoer Foto: ER24

Volgens Kritzinger is die dokters baie tevrede met Eurika se fisiese vordering en sê die operasie was ‘n sukses. “Sy behoort ten minste ‘n week lank in die hospitaal deur te bring.”

‘n Trustrekening is vir Eurika gestig en ‘n weldoener het binne ‘n uur nadat besonderhede oor die ongeluk bekendgemaak is, R50 000, vir mediese koste in die rekening inbetaal. “Sonder hierdie fondse sou Eurika nie in ‘n privaat hospitaal opgeneem kon word nie,” het Kritzinger bygevoeg.

Volgens Kritzinger het ‘n taxi ‘n motor van die pad af gedruk en het dié voertuig Eurika se ouers se voertuig reg van voor getref. Maroela Media wag steeds op bevestiging van die oorsaak van die ongeluk en besonderhede oor die insittendes in die ander voertuig. Die taxi het glo van die toneel af weggejaag. Eurika se ouers is op slag dood.

Volgens die Facebook-blad, Gebede vir Eurika, vind die begrafnis van Eurika se ouers Saterdag 19 Januarie om 09:30 uit die PPK Lighuis in Lephalale plaas. Pastoor Attie van Wyk van Onverwacht sal die diens waarneem.

Indien lesers ‘n bydrae wil maak tot Eurika se mediese onkostes of verdere versorging, is al die inligting op die Facebook-blad, Gebede vir Eurika Burger, beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naas Scholtz ·

Ons bid vir Eurika se herstel. :( Arme mensie! So pragtige dogter!

Maar die pyn van haar verlies sal sy ongelukkig vir ewig dra. Mamma en pappa is vir ewig weg. Ouch!

En die taxi moordenaar stap skotvry om more weer te moor, op sy manier… en sy passasiers wat dit sien gebeur het swyg… hulle is saam skuldig.
Geen optrede van die owerhede om die taxibedryf tot orde te roep nie. Geen regverdige passasier nie?
Ek wonder hoeveel moorde teen die taxi bedryf in RSA se boeke staan!
En ek wonder wanneer gaan iemand reg in eie hande neem en bloedwreker word? Seker net ‘n kwessie van tyd? Hulle beter hulle huis in orde kry, die taxi moordenaars. Of hulle word voëlvry verklaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.