Ses mense is dood en een beseer in ʼn ongeluk by die Geldenhuys-wisselaar in Germiston. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die metropolisie, sê die ongeluk het op die N3 naby die M2-afrit plaasgevind. Hy sê die bestuurder van ʼn blou VW Golf het glo beheer verloor oor die motor waarna dit teen ʼn staalversperring gebots en verskeie kere gerol het. Mokheseng sê drie insittendes is uit die motor geslinger voor dit in twee geskeur het. Vyf van die oorledenes was mans tussen die ouderdomme van 20 en 30 terwyl die sesde slagoffer ʼn 44-jarige vrou was. ʼn 37-jarige man het die ongeluk oorleef en is na die Natalspruit-hospitaal vervoer vir verdere behandeling.
Intussen is vyf mense dood en ses ander beseer in ʼn ongeluk op die N3-suid naby Ashburton, KwaZulu-Natal. Chris Botha, woordvoerder van Netcare911, sê die bestuurder van ʼn bakkie met 11 passasiers het glo beheer verloor waarna die bakkie omgeslaan en verskeie kere gerol het. Botha sê ʼn insleepvoertuig het hierna teen die bakkie gebots. Vyf mense is op die toneel dood verklaar. Ses mense is beseer na die Mediclinic Pietermaritzburg-hospitaal en Grey’s-hospitaal vervoer vir verdere behandeling.