12-jarige het “lukraak” geskiet

Mason Campbell Foto: nydailynews.com

Mason Campbell Foto: nydailynews.com

ʼn 12-jarige het glo sy slagoffers lukraak gekies, maar die aanval haarfyn beplan, toe hy Dinsdag met ʼn haelgeweer by die skool losgebrand het.

Die voorval het Dinsdagoggend omstreeks 08:00 by ʼn Berrendo Middle School in Roswell, New Mexico in Amerika, plaasgevind.

ʼn 12-jarige seun is steeds in ʼn kritieke toestand nadat hy reeds twee operasies aan sy gesig en nek ondergaan het. Kendal Sanders (13) is in ʼn bevredigende toestand nadat sy beserings aan haar regterskouer opgedoen het, het goewerneur Susana Martinez gesê.

Indien Mason Campbell (12) skuldig bevind word, kan hy onder toesig van die departement van kinders, jeug en families geplaas word totdat hy 21 jaar oud is.

Pete Kassetas, hoof van die polisie, het gesê die vuurwapen was ʼn afgesnyde pompaksie haelgeweer met drie rondes ammunisie. “Die vuurwapen kom uit die huis van die verdagte,” het Kassetas gesê. Al drie rondes is in die skool se gimnasium afgevuur – een teen die dak, een teen die vloer en ʼn derde ronde is op ʼn groep leerlinge gevuur. “Ek glo die slagoffers was lukraak.”

Die verdagte se ouers, Jim and Jennifer Campbell, en grootouers, Robert and Nancy Bowles, het Woensdag ʼn verklaring uitgereik waarin hulle sê hulle dink en bid gedurig vir die twee beseerde leerlinge. “Ons bid ook vir hul families.” Hulle het die regter bedank vir sy beslissing dat Mason ondersoek moet word en vir sielkundige behandeling moet gaan. “Ons wil graag hê dat hy die hulp kry wat hy benodig,” het die familie gesê.

Kassetas het nog nie die motief vir die aanval bekend gemaak nie, maar aangedui dat die polisie deur soektogte, ná lasbriewe bekom is, bepaal het wat daartoe aanleiding kon gee.

Martinez het ʼn onderwyser geprys vir sy heldhaftigheid. Die onderwyser, John Masterson, het glo met die verdagte gepraat en hom oorreed om die vuurwapen neer te sit. Masterson het nie geweet dat Campbell reeds al sy ammunisie gebruik het nie.

Intussen berig Huffington Post dat daar in 2013 minstens 27 skietvoorvalle by of naby Amerikaanse opvoedkundige inrigtings plaasgevind het. Altesaam 18 mense is dood, en talle beseer tydens die insidente. In een van die voorvalle is ‘n kampus-veiligheidsbeampte by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) dood toe hy die verdagtes agtervolg het wat die bom by die Bostonse marathon geplant het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.