12 SA-vlieëniers in Namibië aangehou

Twaalf vlieëniers van Suid-Afrika, wat besig was met kankerbewusmakingswerk, is oor die naweek in Namibië in hegtenis geneem.

Die groep is Saterdag by die Ondangwa-lughawe in hegtenis geneem, omdat hulle vlugdokumente glo nie reg was nie, het die Cape Times Maandag berig.

Die vlieëniers is weer Sondagoggend vrygelaat nadat ʼn hof bevind het hul inhegtenisname was onwettig. Die land se polisie het egter geweier dat die groep die land in hul ligte vliegtuig verlaat. Die polisie het ook beslag gelê op die vliegtuig totdat hul vlugdokumente in orde is.

Volgens die berig het die groep Suid-Afrikaners op 27 April op ʼn 16-dag toer deur Botswana en Namibië vertrek. Die toer het bewusmakingswerk vir Kansa gedoen. Kansa het die toer geborg.

“Dit is ʼn groot gemors. Ons word nog steeds nie toegelaat om te vlieg, voordat die polisie en die burgerlike lugvaartowerheid met mekaar gepraat het nie,” het Larry McGillewie, die toer se organiseerder, aan die koerant gesê.

Farieda Kishi, die vlieëniers se prokureur, sê daar het ʼn fout ingeglip toe die groep toegerus is met ʼn bevoegdheidsertifikaat, maar nie ‘n permit om te kan land nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.