12 van Afrika se rykstes in SA

Johann Rupert

Twaalf van Afrika se 40 rykste mense is miljardêrs van Suid-Afrika, het Forbes Donderdag op sy webwerf bekendgemaak.

Forbes se tweede jaarlikse lys van Afrika se 40 rykste persone dui op groei regoor die kontinent. Dié welgesteldes besit saam sowat US$72.9 miljard (R652.6 miljard), 12% hoër as 2011.

Twee-en-dertig van die fortuine is deur entrepreneurs opgebou. Negentien van die rykaards se netto waarde is hoër as verlede jaar, maar 10 se netto waarde het gedaal.

Volgens Forbes is die gemiddelde ouderdom 63 jaar. Die minimum netto waarde om op dié lys te verskyn is US$400 miljoen (Sowat R3,6 miljard). Nicky Oppenheimer is tweede op die lys, Johann Rupert derde, Christoffel Wiese sesde, en Patrice Motsepe agtste.

Desmond Sacco en Stephen Saad is ook in die top 20. Cyril Ramaphosa, Lauritz Dippenaar en Raymond Ackerman is onder die top 30. Ander Suid-Afrikaners op die lys is Gerrit Thomas Ferreira, Koos Bekker en Jannie Mouton.

Aliko Dangote van Nigerië is vir die tweede opeenvolgende jaar as die rykste persoon aangewys. Elf van die persone op die lys bly in Nigerië. Agt van die persone bly in Egipte en vyf in Morokko.

“Dit is te wagte dat die oorgrote meerderheid van Afrika se 40 rykste persone van lande afkomstig is wat die grootste aandelebeurse het,” het Forbes bygevoeg. Forbes sluit nie familiefortuine soos die Chandarias van Kenia of die Madhvanis van Uganda in nie, aangesien die rykdomme onder die gesinslede verdeel is.

Klik hier om ‘n lys te sien van die rykste persone in Suid-Afrika (soos op 24 Maart 2012).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.