12 vas oor OTM-ontploffings

ABSA OTM-aanval in Kemptonpark, Julie 2008

‘n Twaalfde man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met ‘n reeks OTM-bomontploffings in KwaZulu-Natal.

“Lungisiwe Dladla (33) is in Orlando, Soweto, deur die KwaZulu-Natal Valke in hegtenis geneem,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, gesê. Dladla word van moord, drie klagtes van poging tot moord, OTM-ontploffings en die onwettige besit van plofstof aangekla. “Ons kan dalk nog klagtes byvoeg soos wat die ondersoek voortduur,” het Ramaloko gesê.

Dladla, van Ladysmith in noordelike KwaZulu-Natal, het Vrydag in die landdroshof in Howick verskyn. Hy bly in aanhouding en sal op 7 Februarie weer in die Pietermaritzburg-streekshof verskyn waar sy saak aangehoor sal word.

Die polisie het verlede week 11 mans vir ‘n reeks OTM-ontploffings in Mtubatuba, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem. Die Valke het die mans, tussen 20 en 40 jaar oud, Sondag in hegtenis geneem. Hulle word aan OTM-ontploffings in KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga verbind. Die laaste OTM-ontploffing was in Howick. Die mans het in ‘n hostel in Soweto gebly, maar is oorspronklik van KwaZulu-Natal.

Ná ondervraging, het die bende die Valke na ‘n huis in eManguze, suid van Kosibaai, op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek, geneem. Die Valke het hier beslag gelê op vier vuurwapens, insluitend ‘n AK47-aanvalsgeweer, nege plofstofkabels, en ‘n gesteelde bakkie. Die voertuig is vroeg in Januarie in Booysens, Gauteng, as gesteel aangemeld.

Die 11 mans het Dinsdag in die landdroshof in Pietermaritzburg verskyn en sal by Dladla, tydens sy volgende hofverskyning, aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.