13 beseer in geweld by Amplats

Dertien mense is beseer by Amplats se Siphumelele-skag in Rustenburg na mynwerkers en veiligheidswagte slaags geraak het.

Brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie, sê die veiligheidswagte is met pangas aangeval terwyl die mynwerkers met rubberkoeëls geskiet is. Hy sê nege mynwerkers en vier veiligheidswagte is beseer. Die beseerdes is na die Bleskop-hospitaal geneem vir verdere behandeling. Ngubane sê vier verteenwoordigers van die National Union of Mineworkers (NUM) het Maandagmiddag by die myn aangekom waarna ʼn groep van sowat ʼn 1 000 mynwerkers hulle glo wou aanval. Veiligheidswagte het met rubberkoeëls op die groep losgebrand. Ngubane sê die polisie ondersoek sake van openbare geweld, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mpumi Sithole, woordvoerder van Amplats, sê mynwerkers van die werkerskomitee het “NUM se wettiging by die myn bevraagteken en het daarop aangedring dat die NUM se verteenwoordigers hulle kantore ontruim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.