Al drie se borgaansoek is van die hand gewys. Hulle is Meimaand in hegtenis geneem na ‘n belydenisbrief onder ‘n mat in ‘n huis in Johannesburg opgespoor is. Die brief het besonderhede oor Ketani se moord verskaf.
Volgens landdros Richard Ratshibvumo het die drie hom nie oortuig dat uitsonderlike omstandighede bestaan nie, berig EWN. In sy uitspraak het hy gesê die staat se saak is verstewig deur die erkennings wat die drie gemaak het.
Hy het bygevoeg dat daar ‘n realistiese gevaar dat die getuies in die saak moontlik seer of doodgemaak sal word, as die bende se vermeende geskiedenis in ag geneem word.
Die man wat die brief geskryf het, Carrington Laughton, en twee broers wat polisiebeamptes is, David en Carel Ranger, sal gevolglik in Augustus by die ander drie in die hof aansluit. Twee van hul medebeskuldigdes se borg is vroeër toegeken, terwyl ‘n ander verdagte steeds in aanhouding bly.
Luidens die beamptes is Ketani ontvoer en doodgemaak om seker te maak dat sy nie in ‘n CCMA-dispuut teen haar voormalige werkgewer, Cranks-restaurant in Rosebank, sal getuig nie. Volgens die polisie is die eienaar van die restaurant die pa van ‘n verdagte wat nog nie in hegtenis geneem is nie.