13-jaaroue moord: Verdagtes “te gevaarlik” om vry te laat

Betty Ketani se identiteitsdokument

‘n Regter in die Suid-Gautengse hooggeregshof het Woensdag bevind dat drie van die ses mans wat in verband met die moord op Betty Ketani in hegtenis geneem is, “te gevaarlik” is om op borg vrygelaat te word.

Die vermeende outeur van ‘n belydenisbrief wat tot die inhegtenisname gelei het, tesame met twee polisiebeamptes, se borgaansoek is afgekeur, berig EWN. Maroela Media het vroeër in 2012 berig dat dié belydenisbrief onder ‘n mat in ‘n huis in Kenilworth opgespoor is en daartoe bygedra het dat die 13-jaaroue moordsaak opgelos word. Die hof het in Juniemaand bevind dat Carrington Laughton en David en Carel Ranger (die twee polisiebeamptes) die ondersoek kon benadeel indien hulle op borg vrygelaat word. In sy appèlaansoek het Laughton ontken dat hy die outeur van die brief is.

Die drie mans het ook aangevoer dat Ketani se liggaam nog nie opgespoor is nie en dat die saak sal sloer weens DNA-toetse wat op beendere uitgevoer moet word wat in ‘n vlak graf opgespoor is.

Regter Ramarumo Monama het egter bevind dat die drie nie in staat was om uitsonderlike omstandighede te bewys om hul vrylating toe te staan nie. Twee van die verdagtes is op borg vrygelaat, en ‘n ander verdagte het gekies om in die tronk te bly.

Die belydenisbrief, wat deur een van die verdagtes onderteken is, het spesifieke besonderhede oor Ketani se ontvoering en moord bevat. ‘n Man, wat die huis in Kenilworth gehuur het, is ook een van die verdagtes. Die brief het verder aangedui dat ten minste twee ander persone ook ontvoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.