14-jarige skiet 12-jarige by skool

ʼn 14-jarige seun is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy ʼn 12-jarige meisie by hul laerskool in Vanderbijlpark in die voet geskiet het.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Kinnie Steyn, sê die seun is glo deur sy vriende uitgedaag om sy pa se vuurwapen skool toe te bring. Steyn sê die seun is R50 aangebied om die vuurwapen vir medeleerlinge te wys. Hy sê die voorval het omstreeks 13:45 gistermiddag plaasgevind. Die seun het glo probeer weghardloop maar is deur ander leerlinge gekeer. Die seun is in hegtenis geneem terwyl twee onderwysers die meisie hospitaal toe geneem het. Steyn sê ʼn saak van poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen word ondersoek. Die seun se pa word intussen aangekla van nalatigheid in die hantering van ʼn vuurwapen. Die seun, wat in ʼn plek van veiligheid is, sal na verwagting Woensdag in die Vanderbijlpark landdroshof verskyn. Die naam van die skool is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.