Nagenoeg 15 000 krokodille het van die Rakwene-krokodilplaas in die Limpoporivier ontsnap na die afgelope week se vloede in die gebied.
Duisende krokodille is weer gevang. Hulle het in die dig bebosde gebied langs die rivier en die aangrensende lemoenboorde geskuil, berig Beeld.
Meer as die helfte van die reptiele word egter steeds vermis.
Zane Langman, die skoonseun van Johan Boshoff, die eienaar van Rakwene, het aan die koerant gesê Boshoff moes noodgedwonge die plaas se hekke oopmaak uit vrees dat vloedwater Boshoff se huis sou beskadig.
“Die meeste van die vangpogings vind in die aand plaas. Ons probeer om die krokodille weer te vang sodra boere in die omgewing dit gewaar en ons in kennis stel. Daar is baie in Weipe en ek het gehoor een krokodil is op ʼn skool se rugbyveld in Musina,” het Langman gesê.
– Sapa