Vyftien mense is beseer nadat ʼn taxi Donderdagaand in Sunninghill, Johannesburg, gebots het.
“Die taxi was die enigste voertuig wat in die botsing betrokke was,” het Derrick Banks, ʼn woordvoerder van ER24, gesê.
“Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor terwyl hy gedraai het. Die taxi het teen ʼn betonversperring langs die pad vasgery. Twee passasiers is kritiek in die botsing beseer en het kop- en borsbeserings opgedoen. Dertien ander pasiënte, waaronder die bestuurder, is vir rug- en nekbeserings behandel. Die pasiënte is na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling,” het Banks gesê.
Die polisie ondersoek die voorval.