Minstens 15 mense is dood toe ‘n minibustaxi Vrydag naby Umkomaas in KwaZulu-Natal in ‘n stilstaande vragmotor vasgery het.
“Drie mense is in ‘n kritieke toestand, twee is in ‘n ernstige toestand en een het geringe beserings opgedoen,” het Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare911, gesê. “Een van die kritiek beseerdes is met ‘n Rooikruis-helikopter na ‘n hospitaal geneem.
“Die bestuurder van die taxi het teen ‘n afdraende op die P197 naby Sappi se Saiccor-meul beheer verloor oor die voertuig,” het Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die padverkeersinspektoraat in KwaZulu-Natal, gesê.
Die taxi was van Umkomaas onderweg na Magabheni. Die voertuig het die pad verlaat, deur ‘n heining gebars en teen ‘n vragmotor, wat op die Saiccor-perseel geparkeer gestaan het, gebots.
Die bestuurder, wat geringe beserings opgedoen het, het ‘n bloedalkoholvlak van 0.26mg gehad. Die wettige perk is 0.24mg per 100ml. “Hy is in hegtenis geneem,” het Mngomezulu gesê.
My mening is, 90% van die minibus taxi bestuurders het gekoopte lisensies. Hulle is onbevoeg om op ons paaie te wees.