15-jarige meisie rand glo leerling aan by Wes-Rand skool

ʼn 15-jarige meisie van Hoërskool Krugersdorp aan die Wes-Rand is van aanranding aangekla nadat sy glo ʼn ander leerder met ʼn bottel aangeval het.

ʼn Polisiewoordvoerder, Lucky Biyela, sê ʼn vriend van die aanvaller het glo die voorval, wat op 30 Januarie plaasgevind het, op sy selfoon afgeneem. In die video loop die 15-jarige meisie oor die skoolgrond en wanneer sy haar slagoffer sien, vorm sy en haar vriendinne ʼn kring om haar. Die aanvaller gooi dan ʼn botteltjie sap oor die slagoffer se kop uit. Sy val haar dan glo met die bottel aan. Die hoof van die skool, Ivan Bailey, het bevestig dat daar ʼn verhoor gehou is deur die beheerliggaam en dat die meisie toegelaat is terug te keer skool toe. “Die hoof van ʼn skool kan nie ʼn leerder skors nie. Daar is ʼn dissiplinêre prosedure wat gevolg moet word, en gevolg is.” Volgens Bailey het die voorval plaasgevind na ʼn reeks “skokkende gesprekke” op Facebook en Blackberry de boodskapdiens. “Ons het berading beskikbaar gemaak aan die leerders. Kuberafknouery is iets wat ons baie ernstig opneem.” Vanessa Wienand, die ma van die graad tien meisie wat aangeval is, sê die afknouery gaan al vir maande aan. Wienand het namens haar dogter die klag van aanranding aanhangig gemaak. “Daar is hierdie groepie wat haar die afgelope ruk afknou en haar vet noem. Ek het al die boodskappe wat hulle vir haar gestuur het aan die polisie oorhandig.” ʼn Woordvoerder van die departement van onderwys, Charles Pahlane, sê hulle is bewus van die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.