15-jarige sterf ná omstrede ‘verregse’ wildbewaringskursus

Wilna Buys en Geys Negar, Raymond se ma en stiefpa. Foto: Carte Blanche

Alex de Koker (49) en Michael Erasmus (20), is tans in die hof in verband met die afsterwe van ʼn 15-jarige seun tydens ʼn 10-weeklange wildbewaringsopleidingskamp.

Raymond Buys (15) is in Maart 2011 in ʼn hospitaal in Vereeniging met verskeie beserings, insluitend skedelfrakture, opgeneem, berig Beeld. Hy is in April 2011 oorlede.

Wilna Buys, Raymond se ma, het Maandag in die streekhof in Vereeniging teen die kampeienaar, Alex de Koker, en sy werknemer, Michael Erasmus, getuig. Raymond is glo in Januarie 2011 by Echo Wild Game Rangers afgelaai. Buys sê Raymond was baie opgewonde om as wildbewaarder opgelei te word. Hulle mag glo egter nie gedurende die opleidingstydperk met hul seun in verbinding tree nie. Die familie het Raymond eers op 24 Maart weer gesien, toe hy reeds in die hospitaal opgeneem is.

“My kind was ʼn geraamte. Hy het kopbeserings en geskeurde ore gehad. Daar was kneusplekke aan sy gesig en arms en sigaretbrandmerke aan sy lyf,” het Buys gesê.

Die twee mans het onskuldig gepleit op aanklag van moord, kindermishandeling en –verwaarlosing, versuim om voldoende klerasie, voedsel, behuising of hulp aan te bied en twee aanklagte van aanranding.

De Koker is die afgelope 20 jaar glo al talle kere van aanranding beskuldig. Twee mense is glo vroeër onder De Koker se toesig dood. In 2009 het hy ’n opgeskorte vonnis gekry weens die dood van Eric Calitz (25) wat in 2007 weens ernstige breinbeserings by een van sy “opleidingskampe vir voornemende wildbewaarders” by Swartruggens gesterf het. Nicolas van der Walt (19) is ook in 2007 by die kamp oorlede, maar vermoedelik weens ’n hartaanval.

Die kamp is vroeër as ‘n verregse opleidingskamp bestempel (klik hier om die berig in Rapport van 2011-04-16 te lees).

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M Seegers ·

Ek kan net nie verstaan dat dit oor en oor gebeur. Dieselfde mense is verantwoordelik vir die dood van ander keer op keer, en hulle kom net bloot weg daarmee! Verwyder die Moordenaars uit ons samelewing.
Hulle is verseker van die duiwel!

Louise ·

Dit is wat ek ook wil weet. Hoe kom mense oor en oor weg met moord. Dit is verskriklik. Daar is nie genoeg geregtigheid in hierdie land nie. Wette word nie gehoorsaam nie en strawwe is nie streng genoeg nie, daarom is daar soveel moord en doodslag in hierdie land. Niemand is meer veilig nie, nie eers jou kind in ‘n ander witman se hand nie! Wanneer gaan daar iets gedoen word aan hierdie wetteloosheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.