16 babas van oorsese tronke keer terug na SA

Argieffoto

Die departement van maatskaplike dienste het 16 kinders, wat in tronke oorsee gebore is, na Suid-Afrika laat terugkeer, het die departement Sondag gesê.

“Nege van die 16 babas is in Brasilië gebore,” het Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, gesê.

Sy het onlangs twee kinders laat terugkeer wie se ma’s tronkstraf in Rio en Sao Paolo in Brasilië uitdien. “Die babas, onderskeidelik 10 maande en een jaar oud, is tans in tydelike versorging terwyl hulle wag om permanent in pleegsorg geplaas te word.”

Vier babas in Bolivië, Hong Kong, Mosambiek en Tanzanië wag nog om na Suid-Afrika terug te keer.

Dlamini sê die vroue was reeds swanger toe hulle in hegtenis geneem is en het in aanhouding gekraam. Drie vroue wat tans tronkstraf uitdien is swanger. Hulle is onder 337 Suid-Afrikaanse vroue, tussen 29 en 62 jaar oud, wat in tronke oorsee aangehou word weens onwettige dwelmsmokkelary. “Twee-en-negentig vroue word in van die nege vrouetronke in Brasilië aangehou. Een-en-sewentig van dié vroue dien tronkstraf in Sao Paolo uit.”

Dlamini sê sommige dwelmkartelle maak van roetes gebruik wat lande insluit wat deel is van die Suidelike Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Sy versoek dat dwelmregulasies in dié streek strenger moet wees. Die departement het sy kommer uitgespreek oor die “ongekende toename” in die aantal dwelmmuile van Suid-Afrika wat in Brasilië in hegtenis geneem word. “Sedert die begin van 2013 is 28 Suid-Afrikaners in Brasilië in hegtenis geneem. Dit kan moontlik tot die onlangse konfederasiebeker, wat in Brasilië gehou is, toegeskryf word.”

Sy voorspel dat die syfer kan toeneem tydens die opbou na die 2014 Fifa Wêreldbeker indien die nodige maatreëls nie ingestel word nie.

Brigadier Ebrahim Kadwa, ondersoekbeampte van georganiseerde misdaad vir die Valke, het gesê dwelmmuile by die land se grensposte is ‘n toenemende probleem. “Sedert Januarie 2012 is 281 persone by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem,” het Kadwa gesê. Die persone is van Suid-Afrika en ander lande.

Kadwa beskryf dwelmhandelaars as “gewetenlose” mense wat jag maak op armes. Hy doen ‘n beroep op mense wat deur dwelmhandelaars genader word om met die owerhede in verbinding te tree. “Hulle het al selfs na skuilings gegaan waar hulle mense aanstel om as menshandelaars op te tree. Ons het ons pogings verskerp om dwelmhandel te voorkom,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.