Die NSRI is tans op soek na ‘n 16-jarige seun wat Sondagmiddag net ná 15:00 in die see verdwyn het.
“Die seun, van Port Elizabeth, het in die water verdwyn en ons pogings het tot dusver nog nie enigiets opgelewer nie,” het Robin Brown, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê. Die tiener was deel van ‘n kerkgroep op die strand wat in die vlakwater geswem het toe ‘n kragtige golf hulle tref. Die groep kon ‘n 16-jarige dogter, wat byna verdrink het, uit die water trek.
Die tienerseun het onder die water verdwyn voordat die groep hom kon bereik. Die seereddingspan het Maandagoggend tot 01:00 aan die kuslyn en in die see gesoek, en Maandagoggend om 05:00 weer die soektog hervat.
Die tienerdogter, wat byna verdrink het, is tans in ‘n stabiele toestand in die hospitaal.
Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.